Van penne tot ssssssslange

Bo: Mornay Thysse verwyder ’n boomslang onder ’n polisievoertuig. Onder Die Kaapse Koraalslang is vroeër die week gevang. Heelonder: ’n Besoeker met penne is in Parkweg gered. Foto’s: Facebook

Mornay Thysse, Oudtshoorn se bekende reddingswerker en slangvanger, het die afgelope maand nie net reptiele wat seil gered nie, maar ook een met skerp penne op sy lyf.

Dinsdag het hy ’n pragtige, maar parmantige Kaapse Koraalslang buite Oudtshoorn gevang. Die slang word ook in die kobrafamilie geklassifiseer.

Hierdie spesie is gevaarlik en word dikwels verwar met die kousbandjie of harlekyn, wat baie dieselfde lyk en slegs effens giftig is.

Sondag 9 November het Thysse ’n polisievoertuig omtrent bekruip en beloer nadat ’n wyfie boomslang by die honde-eenheid, in een van die voertuie ingekruip het. Die slang het haar knus tuisgemaak onder die bak, waar die spaarwiel is. Sy is veilig verwyder en weer vrygelaat in die natuur.

Later die dag het Thysse nog ’n Karoo-diertjie gered nadat ’n inwoner in Parkweg ’n baba ystervark gevind het. “Dit was nou wel nie ’n slang nie, maar die baba het ’n geleentheid in my slang-emmer gekry om terug te keer na die veld waar hy hoort,” skerts Thysse.

Teen druktyd het Thysse en die span van die Oudtshoorn brandweer al verskeie slange gevang, en selfs drie molslange net vir November. Thysse het ook vroeër die maand drie Kaapse Kobras op een dag gevang, waarvan twee in Dysselsdorp by die watersuiweringsaanleg was. ’n Pofadder is ook al die maand gevang.

Hier is ’n paar praktiese wenke om jou gesin en troeteldiere veilig, en jou erf slangvry te hou:

  1. Hou jou erf skoon en vry van rommel, veral tuinrommel. Dit lok muise en paddas wat weer slange lok aangesien dit hul natuurlike prooi is.
  2. Neem ’n foto van die slang indien moontlik vir identifisering later. 3. Skakel die brandweer om die slang te verwyder en hou die slang op ’n veilige afstand dop indien moontlik tot hulp arriveer. 4. Kry so gou moontlik mediese hulp vir mens en dier. Daar is geen boereraat wat teen ’n slangbyt werk nie.

Hou hierdie noodnommers byderhand in geval van nood:
Beheerkamer 044 203 7800
Oudtshoorn Hospitaal: 044 203 7200.
Mediclinic Klein Karoo: 044 272 0111.
Oudtshoorn Dierekliniek: 044 272 3076 of 083 701 1367 (na-ure).
Kango Dierekliniek: 044 279 1400 of 083 301 6858 (na-ure). (ANGELIQUE ERASMUS)