
Magdaleen (Maggie) Titus. Foto: Facebook
Deur Garnett Wicomb
DIE borgaansoek van Magdaleen Titus, vrou die vermoorde soldaat Preston Titus, kom weer Woensdag (28 Februarie) voor nadat dit verlede Donderdagmiddag in die Oudtshoorn Streekhof vir betoë uitgestel is.
Die ondersoekbeampte, ao Martin Le Roux, het met Titus se regsverteenwoordiger, Joshua Greeff, saamgestem dat geen getuienis voor die hof gebring is wat daarop dui dat sy sal vlug, met getuies sal inmeng of enige lid van die gemeenskap skade sal aandoen indien borgtog aan haar toegestaan word nie.
Greeff is tydens sy kruisondervraging van Le Roux by meer as een geleentheid deur landdros Errol Thomas gevra om tot die punt te kom en nie die borgaansoek onnodig uit te rek nie. “‘n Borgaansoek berus grotendeels op twee geskilpunte, naamlik: Het die staat ‘n prima facie-saak teen die applikant en of bestaan daar buitengewone omstandighede,” het die landdros gesê. Hy het Greeff ook gevra om nie vrae aanhoudend te herhaal nie aangesien dit die ondersoekbampte in ‘n “ongemaklike posisie” plaas.
Ook die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het telkens beswaar aangeteken teen vrae van Greeff wat nie relevant tot die aansoek is nie.
Greeff self het op sy beurt telkemale beswaar aangeteken teen vrae en stellings van die staat. Hy het sy bekommernis uitgespreek oor afskrifte van die dossier waarmee die ondersoekbeampte in die hof getuig.
Volgens Le Roux is die oorspronklike dossier deur die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) aangevra.
Volgens Greeff sal Titus ontken dat sy geld gedeponeer het vir Justice Mooi en om na Oudtshoorn te kom. Hierop het Le Roux geantwoord dat hy wag vir dokumente wat die inbetaling bevestig.
• Baie minder belangstellendes het Donderdag by die hof opgedaag terwyl die polisieteenwoordigheid ook afgeskaal en die pad voor die hof oopgestel is vir verkeer.
Titus se twee medebeskuldigdes is Nathasia Stuurman en Justice Mooi. Mooi is reeds borgtog geweier terwyl Stuurman besluit het om nie nou om borgtog aansoek te doen nie.