Die ligging waar die vliegtuig Saterdagmiddag geval het. Dit was Saterdag bewolk in die Oudtshoorn- gebied met ligte reën wat in stadiums geval het. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIE Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid ondersoek tans die oorsaak van ’n vliegongeluk Saterdagmiddag waarin twee mense gesterf het.
Die uitgebrande wrak van ’n Cessna C210 is Sondagoggend vroeg in bergagtige gebied enkele kilometer noord van Oudtshoorn gevind nadat die vliegtuig Saterdagmiddag as vermis aangegee is.
Die vliegtuig met twee mense aan boord was van Mosselbaai na Graaff-Reinet onderweg.
Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse Polisiewoordvoerder, is twee liggame in die vliegtuig gevind, maar is albei onherkenbaar verbrand.
Een van die oorledenes was die eienaar van die vliegtuig, Doug Delange. Hy is ’n boer van Graaff-Reinet.
Die ander liggaam was die van ’n werknemer van Delange. Hy is nog nie geïdentifiseer nie.
Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse Polisiewoordvoerder, sal die name van die oorledenes eers bekend gemaak word wanneer die polisie dit kan bevestig.
Die woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid, Santjie White, het in ’n verklaring gesê ’n gesamentlike operasiesentrum is by die Oudtshoorn Lughawe op die been gebring nadat die vliegtuig as vermis aangemeld is.
’n Lugsoektog het Sondag met eerste lig begin met die hulp van vele rolspelers – die polisie, die SA Rooikruis Air Mercy Service, Eden Metro se mediese nooddienste, die lugmag se 15 Eskader, die Bergklub van Suid-Afrika, Lugverkeer-beheerdienste en plaaslike inwoners wat aangebied het om te help.
“Die wrak van die vliegtuig is vyf seemyl noord van Oudtshoorn gevind. Daar was ongelukkig geen oorlewendes nie,” het White gesê.
Die polisie doen tans ’n geregtelike doodsondersoek.