Twaalf gevonnis vir roof van winkeleienaars

Deur Garnett Wicomb
TWAALF mans wat op drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is deurdat hulle die eienaars van drie spazawinkels in Bridgton,van kontant en selfone beroof het, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof gevonnis.

Streeklanddros Neels Nortje het die beskul­digdes op die getuienis van die klaers en ’n ooggetuie skuldig bevind.

Nie een van hulle het in die saak getuig nie.

Die landdros het bevind dat die beskudigdes in groepsverband opgetree het.

Die twaalf het op 10 Januarie 2017 onder ’n boom op ’n erf in Petunialaan gesit en eers vir Nuzimur Hoque van twee selfone en R150 kontant beroof.

Daarna het hulle vir Mir Hussain met ’n stok geslaan en van R4 500 kontant en sy selfoon beroof.

Hulle het ook vir André van Wyk van R160 en ’n krat bierbottels beroof.

Die klaers is nie in die aanvalle op hulle beseer nie en die optrede van die twaalf as amateuragtig in die hof bestempel.

Cordwill May en Numfriano Meyer, wat jeugdiges was tydens die rooftog, is elk vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Cheslin Bruintjies, Patrick Malgas, Dawid Swarts, Patrick Fortuin, Wayne Johannes en Johan Goliath, almal eerste oortreders, is ingevolge Art 276 (1) (i) tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis en op die derde klagte vyf jaar wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Corné Kammies, Sam Olckers, Andrew Witbooi en Henry Fortuin wat nie eerste oortreders is nie, is op twee klagtes elk tot vyf jaar gevonnis ingevolge Art 276 (1) (i), en op die derde aanklag tot vyf jaar wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Die hof het in ag geneem dat die beskuldigdes reeds vir byna drie jaar in aanhouding was, wat gelykstaande is aan ses jaar tronkstraf.

Die saak het volgens landdros Nortje om verskeie redes baie lank geduur om afgehandel te word.
Al twaalf is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapenlisensie te bekom asook om ’n vuurwapen te besit.