Tuinbesproeiing nou volgens huisnommer

Die Raubenheimerdam staan op 61,43%, en vlak 2-waterbeperkings is van toepassing. Om water te bespaar en druk op die netwerk te verminder, mag tuinbesproeiing voortaan slegs in die aand en volgens huisnommers geskied.

Die Mellvilledam is tans 100% vol. Reënval by die damme oor die week wat geëindig het op Maandag 2 Februarie was 0 mm, en die gemiddelde waterverbruik vir daardie week was 18,44 ML per dag.

Operasionele monitering en terugvoer van inwoners het bevestig dat wanneer alle huishoudings terselfdertyd besproei, die waterdruk in die netwerk beduidend daal.

Besproeiing word slegs toegelaat vir twee uur per aand op spesifieke dae:
• Gelyke huisnommers: Maandae, Woensdae en Vrydae
• Ongelyke huisnommers: Dinsdae, Donderdae en Saterdae
• Toegelate besproeiingstyd: 18:00 tot 20:00

Inwoners word dringend versoek om daaglikse waterverbruik tot minder as 100 liter per persoon per dag te beperk, sodat die totale munisipale waterverbruik onder 13,5 ML per dag bly.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit doen ’n ernstige beroep op inwoners om geen nuwe aanplantings te onderneem nie, aangesien nuwe plante intensiewe natmaak vereis, veral tydens vestiging, wat ekstra druk op die waternetwerk plaas. Inwoners word aangemoedig om eerder bestaande tuine met waterbesparende praktyke te onderhou en alternatiewe waterwys-oplossings te oorweeg totdat die situasie verbeter.

Dysselsdorp
Waterontrekkings uit boorgate geskied volgens aanbevole volumes en die boorgatwatervlakke is stabiel. Beskikbare lewering en huidige verbruik is egter bykans gelyk, wat beteken dat waterverbruik verder verminder moet word.

Inwoners van Dysselsdorp en die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema word herinner dat streng vlak 6-waterbeperkings steeds van krag is. Watertenkers word, waar nodig, veral in die hoogliggende dele van Dysselsdorp, aangewend.

De Rust
Die vloei van die Huisrivier is tans baie swak. Aanvulling geskied vir ’n gedeelte van die dag vanuit die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema, terwyl twee watertenkers gebruik word om water aan inwoners te voorsien.

Die toevoer van water na De Rust plaas egter beduidende druk op die water beskikbaar vir Dysselsdorp en die res van die skema. Inwoners van De Rust word gevolglik herinner dat streng vlak 6-waterbeperkings steeds van toepassing is.