Onwettige en oorvol skoolvervoer stel kinders se lewens in gevaar

Foto: Facebook

Die minibustaxi-ongeluk wat op 19 Januarie in Vanderbijlpark plaasgevind het, het weer die kollig laat val op die veiligheid van skoolvervoer in Suid-Afrika.

Inwoners en ouers waarsku dat kinders daagliks in oorvol en moontlik onpadwaardige voertuie vervoer word, dikwels in stryd met bestaande wetgewing.

’n Inwoner het aan Die Hoorn gesê hy het gesien hoe leerlinge “soos sardientjies” in voertuie gelaai word wat duidelik nie vir passasiersvervoer is nie.

“Die kinders word in voertuie gelaai wat te klein is, sonder veiligheidsgordels, en party van die voertuie lyk glad nie padwaardig nie,” het hy gesê.

Wat sê die wet?
Volgens toepaslike wetgewing en riglyne ra- kende skoolvervoer geld streng vereistes vir beide voertuie en bestuurders:
• Skoolvervoerdienste moet by die betrokke munisipaliteit geregistreer en goedgekeur wees.
• Die Departement van Vervoer bepaal dat die vervoer van kinders in die bak van bakkies, afleweringsvoertuie of vragmotors onwettig is.
• Geen staande passasiers of oorlaai van voertuie word toegelaat nie.
• Ongemagtigde of onpadwaardige voertuie mag nie leerlinge vervoer nie.

Bestuurders wat leerlinge vervoer, moet ’n geldige bestuurslisensie besit, asook ’n professionele bestuurspermit waar dit vereis word.

’n Professionele bestuurspermit is verpligtend wanneer leerlinge vervoer word in ’n voertuig wat 12 of meer passasiers, insluitend die bestuurder, kan vervoer, of wanneer die vervoer teen vergoeding plaasvind.

Padveiligheidskenners waarsku dat oorlaaide en onpadwaardige voertuie die risiko van ernstige beserings of sterftes aansienlik verhoog, veral wanneer kinders betrokke is.

Vereistes waaraan voertuie moet voldoen
Voertuie wat vir skoolvervoer gebruik word, moet aan die volgende minimumvereistes voldoen:
• Die voertuig moet ‘n bewys van versekering en ’n geldige padwaardigheidsertifikaat hê.
• Passasiersaanspreeklikheidsversekering is verpligtend om leerlinge te beskerm in die geval van ’n ongeluk.
• Elke voertuig moet toegerus wees met ’n werkende brandblusser.
• In sekere gevalle kan dit vereis word dat daar ’n aflosbestuurder en ’n vervoerondersteuningstelsel beskikbaar moet wees, veral waar lang afstande of verhoogde risiko betrokke is.

Aanspreeklikheid van skole
Regskenners wys daarop dat ’n skoolhoof, ’n verantwoordelike opvoeder of ’n lid van die skool se beheerliggaam moet ingryp indien daar enige twyfel bestaan oor die padwaardigheid van ’n voertuig wat vir die vervoer van leerlinge gebruik word.

’n Skool kan as nalatig beskou word indien daar:
• ooglopend onpadwaardige voertuie toegelaat word om leerlinge te vervoer;
• klagtes of verslae oor gevaarlike of onpadwaardige skoolvervoer geïgnoreer word;
• versuim word om bestuurders se bestuurslisensies, professionele bestuurspermitte en versekering te verifieer;
• nie opgetree word na veiligheidsklagtes nie;
• nalaat om ernstige voorvalle by die toepaslike owerhede aan te meld.

Rol van ouers
Ouers dra die uiteindelike verantwoordelikheid om te verseker dat hul kinders veilig vervoer word, veral wanneer private skoolvervoer gebruik word.

Dit sluit in om seker te maak dat voertuie padwaardig is, bestuurders behoorlik gelisensieer is en dat alle veiligheidsvereistes nagekom word.

Gemeenskapslede doen ’n beroep op owerhede om strenger toe te sien dat bestaande wetgewing toegepas word, voordat nog ’n tragedie plaasvind.