Deur Liesel le Roux
ONDERSOEK asseblief die bewerings van onderlinge faksies en struwelinge binne die plaaslike regering op Oudtshoorn en tree spoedig en drasties op.
Dit is die boodskap van ’n dringende skrywe wat die gemeenskapsorganisasie Red Oudtshoorn die af- gelope week aan die DA se provinsiale leierskap gerig het en waarin hulle gevra word om in die dorp in te gryp.
Red Oudtshoorn skryf onder meer:
“Dit is met baie groot kommer wat ons verneem van die onderlinge faksies en struwelinge wat tans binne die plaaslike regering te Oudtshoorn woed.
“Veral kommerwekkend is die gerugte van erge spanning tussen ’n faksie van die DA-raadslede onder leiding van die burgemeester aan die een kant en ander DA-raadslede aan die ander kant.
“Ons het verneem dat die DA se Federale Regskommissie ’n ondersoek geloods het na die oënskynlike krisis op Oudtshoorn.
“Ons besef dat die nasionale / provinsiale verkiesing u tans uiters besig hou. Ons hoop en vertrou egter dat die werksaamhede van die bogemelde kommissie nie opgehou word as gevolg van die verkiesing nie.
“Ons skaar ons by ander plaaslike organisasies en rig hierdie skrywe aan u met die versoek dat die aangeleentheid u uiterste dringende aandag geniet.”
Dan volg ’n lang lys ernstige beweringe waaroor Red Oudtshoorn hul kommer uitspreek.
Dit sluit gerugte in dat mosies van wantroue in DA-raadslede in leiers-posisies deur ander DA-raadslede gesteun word asook die feit dat begrotingsvergaderings uitgestel is en die GOP-proses klaarblyklik tot stilstand gekom het.
Die brief gaan voort: “Nóg die DA, nóg Oudtshoorn kan bekostig dat die bogemelde jammerlike situasie nie uiters dringend in die kiem gesmoor word nie.
“U moet asseblief verhoed dat kriminele elemente weer beheer van ons dorp oorneem en hul kloue slaan in die geldkas. U weet self watter pynlike proses Oudtshoorn moes deurgaan in die verlede.
“Nadat Oudtshoorn in 2011 onder ANC-beheer gekom het, het mev Zille ons gewys op die demokratiese beginsel dat ons die leierskap verdien wat ons gekies het. Oudtshoorn het in 2016 ’n sterk mandaat gegee aan die DA.
“Oudtshoorn verdien beter as wat nou hier aangaan!”
• Hikkie Marais, een van die lede van Red Oudtshoorn, het gister gesê die organisasie is baie bekommerd oor die huidige situasie. “Die dorp kom uit ’n vorige bestuur waar daar nie geld was om ’n toiletrol te koop nie. Ons kan nie toelaat dat Oudtshoorn weer roekeloos bestuur word nie.”
• Die Hoorn kon geen bevestiging kry vir beweringe die week dat enkele DA-raadslede op die punt staan om die party te verlaat en na ’n ander party oor te loop nie.
Tertius Simmers, DA-kiesafdelingshoof, het Dinsdagaand gesê geen DA-raadslid van Oudtshoorn het bedank nie, terwyl Allen Paulse, munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, gister aangedui het dat geen bedanking van enige raadslid ontvang is nie.