Tophonde van regoor Suid-Afrika in Oudtshoorn

Die Welsh Corgi (Pembroke) Sterling A Whole New World at Everleigh JM en middel Siberian Husky Spiritkeeper Rendezvous JM was onder die uitblinkers van die naweek se jaarlikse hondeskou op Oudtshoorn. Die skou word deur die Outeniqua Kennelklub en George Kennelklub aangebied. Seliaville Lago di Scutari en Seliaville Szelidi-tó (regs), albei Shetland Sheepdog, wat ook die naweek deelgeneem het en al die pad van Kaapstad gereis het, wys dat dit uitputtende werk is om te skou en in hul klasse (herding) te wen. Foto’s: Facebook

Talle van Suid-Afrika se beste skouhonde het die afgelope naweek in Oudtshoorn, by Hoërskool Oudtshoorn meegeding tydens vier KUSA-kampioenskapskoue wat deur die George Kennelklub en Outeniqua Kennelklub aangebied is.

Die skoue het deelnemers van regoor die land na die Klein Karoo gelok waar honde in verskillende rasse en ouderdomsgroepe beoordeel is. Van die land se mees gesogte kampioenhonde het hul opwagting gemaak, terwyl jong honde ook die geleentheid gehad het om hul potensiaal te wys.

Elke ras kompeteer eers teen hul eie ras. Die wenner van elke ras klas, kompeteer dan teen ander honderasse in dieselfde klas. Daarna word die sewe wenners van elke verskillende klas teen mekaar geskou om die algehele wenner van die dag te kies in drie verskillende klasse vir die “Best on Show” kategorie: Veterane, wat ouer as sewe jaar moet wees, puppy en junior. Uit die drie word die algehele “Best on show” gekies wat dan die nommer een hond vir die dag is

Die Outeniqua Kennelklub se eerste kampioenskapskou op Saterdag 13 Junie is deur ’n Welsh Corgi (Pembroke), Sterling A Whole New World at Everleigh JM, gewen. Die English Springer Spaniel, Lordsett Wannabe Hero, was tweede. Die Border Collie, Edinelyte Wired on the Edge, is as Best Puppy on Show aangewys, terwyl die Australian Shepherd, Incantations of Twilight Iridescent Vibes, die Best Junior on Show-titel ingepalm het.

By George Kennelklub se eerste kampioenskapskou op Saterdag 14 Junie het die Staffordshire Bull Terrier, Capstones Miss-Teeq of Ammicus, met die Best on Show-titel weggestap. Die Whippet, Von Eitzen Lady of the Lake JM, was naaswenner. Die Siberian Husky, Spiritkeeper Rendezvous JM, het die Best Puppy on Show-titel gewen, terwyl die White Swiss Shepherd Dog, Loudeyra A Star Is Born, as Best Junior on Show bekroon is.

Die tweede Outeniqua Kennelklub-kampioenskapskou op 14 Junie is deur die English Springer Spaniel, Lordsett Wannabe Hero, gewen, met die Welsh Corgi (Pembroke), Sterling A Whole New World at Everleigh JM, as naaswenner. Die Jack Russell Terrier, Nikolas Nolan Bagiland of Heatherbell, het die Best Puppy on Show-titel verower, terwyl die Pug, Diabolbric’s The Angel’s Name JM, as Best Junior on Show aangewys is.

George Kennelklub se tweede kampioenskapskou op Maandag 15 Junie het afgesluit met die Welsh Corgi (Pembroke), Sterling A Whole New World at Everleigh JM, wat die algehele Best on Show-titel gewen het. Die Whippet, Von Eitzen Lady of the Lake JM, was tweede.

Die Siberian Husky, Spiritkeeper Rendezvous JM, is weer as Best Puppy on Show aangewys, terwyl die Pug, Diabolbric’s The Angel’s Name JM, die Best Junior on Show-titel ingepalm het.

Die skoue is deur internasionale en Suid-Afrikaanse beoordelaars beoordeel en het ’n hoë standaard van teling, voorbereiding en hantering weerspieël.

Verskeie honde het meer as een titel oor die naweek gewen, met die Welsh Corgi (Pembroke) Sterling A Whole New World at Everleigh JM, die English Springer Spaniel Lordsett Wannabe Hero, die Siberian Husky Spiritkeeper Rendezvous JM en die Pug Diabolbric’s The Angel’s Name JM onder die uitblinkers van die naweek. (ANGELIQUE ERASMUS)