Tannie Anna vier 100 jaar

Bo: Tannie Anna vier die week ’n besonderse mylpaal. Sy het Woensdag haar 100ste verjaarsdag gevier. Foto:Lindi Brill

Tannie Anna Minnaar van Millenium Park, het Woensdag, 12 Augustus, haar 100ste verjaarsdag gevier.

Sy woon reeds die afgelope 24 jaar in Oudtshoorn nadat sy en haar man vanaf Pretoria verhuis het om nader aan haar dogter, Christa Rabie, te woon. Christa is egter as gevolg van Covid oorlede.

Tannie Anna se ander dogter, Anamarie, woon saam met haar in Milllenium Park.

“My ma het nie regtig nodig om in die siekeboeg te woon nie, maar ons kinders het besluit dat dit beter is as sy nie meer in die nagte alleen is nie”, het Anamarie aan Die Hoorn gesê.

Volgens haar is Tannie Anna nog op en wakker en hou sy haar omtrent op haar tone. Sy het al die jare gedigte geskryf, en sy hou haarself nog besig met breiwerk en is versot op lees.

Tannie Anna is in Sannieshof in die Noordwes-provinsie gebore. Vandaar af is sy Vryburg toe, en is vroeg getroud.

Sy en haar man was 67 jaar getroud voordat hy 11 jaar gelede oorlede is. Sy het vier kinders gehad van wie twee reeds oorlede is en het ook 11 kleinkinders en 17 agter-kleinkinders.

Haar seun, Philip, het al die pad uit Rio de Janeiro gekom om haar verjaarsdag saam met haar te vier.

Op die vraag wat haar grootste stukkie wysheid is wat sy oor die bestek van ’n 100 jaar geleer het, het Tannie Anna geantwoord: “Jy moet gelukkig lewe en ander mense altyd met liefde en respek behandel. En natuurlik moet jy altyd jou sin vir humor behou.” (Deur Lindi Brill)