Ontmoet die Hardeveld Boereorkes

Die Hardeveld Boereorkes. Foto verskaf

Die immergewilde Grootvoël Boeremusiekfees is eersdaags weer op Oudtshoorn, en een van die orkeste wat die geleentheid bywoon is die Hardeveld Boereorkes.

Die boereorkes is gestig deur talentvolle, musikale boere van die Nuwerus- en Vanrhynsdorp-omgewing wat dikwels bymekaar kom om musiek en vermaak aan die Namakwaland te verskaf.

Die orkes poog om die tradisionele musiek van die Hardeveld, Duineveld en Sandveld te bevorder en te laat voortleef deur ’n sterk sosiale mediateenwoordigheid wat oor die hele wêreld deur boeremusiekliefhebbers waardeer word.

Dit beteken egter nie dat die Hardeveld Boereorkes slegs aan tradisionele of outydse musiek gebonde is nie, want met die slagspreuk van “effe anders”, kan jy altyd ’n swing of jive nommertjie op dié orkes se speellys verwag.

Elkeen van die drie orkeslede kan ’n verskeidenheid instrumente speel en sodoende word die klein orkes geken aan die klanke van “baie geluide en groot verskeidenheid”.

Die orkeslede is:
Johannes van der Colff – Baskitaar/kitaar, Louis Brink – Konsertina/kitaar, Pellie Brink (sameroeper) – Kitaar/konsertina. Hierdie drie manne speel reeds sedert 2015 saam en is baie gewild by troues, partytjies, feeste en kerkbasaars in die Namakwaland en die omgewing.

Die Hardeveld Boereorkes is ook die amptelike boereorkes vir Radio Namakwaland 93.4 FM se funksies en doen jaarlikse verskeie uitreikgeleenthede na ouetehuise in die Noord- en Wes-kaap.
’n Groot versameling musiek en vermaak is beskikbaar op hul YouTube-kanaal: www.youtube.com/@hardeveldorkes.

Kom luister na hul voetstamp-melodieë by die Grootvoël Boeremusiekfees op 27 en 28 September by Hoërskool Oudtshoorn. Kontak gerus vir Brian Nieuwoudt by 082 322 7525 of Radio Nama-kwaland, 079 350 7339 vir meer inligting of vir kaartjie verkope.