
Dis veral na hierdie klipwerk van Thomas Bain en sy werkers wat tussen 1881 en 1888 gedoen is, waarop Erfenis Wes-Kaap fokus. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
HERSTELWERK aan die Swartbergpas – ná die wolkbreuk en flitsvloed verlede maand – gaan tussen R25 miljoen en R30 miljoen kos. Dit gaan sowat tien maande duur voordat die pad weer gebruik kan word, ná die aanvang van herstelwerk. En om die hele herstelprojek te voltooi, sal sowat 15 maande duur.
Byron la Hoe, woordvoerder van die departement vervoer en openbare werke, het gister by navraag aan Die Hoorn gesê die Wes-Kaapse departement omgewingsake en die nasionale departement water en sanitasie het reeds goedkeuring verleen vir die herstelwerk aan die pas, maar Erfenis Wes-Kaap moet nog die groen lig gee.
“ ’n Aanvanklike opname is gemaak van die skade wat op 9 April aan die pas aangerig is. Daarna het omgewingsake, sowel as vervoer en sanitasie, goedkeuring vir die werk gegee. ’n Aansoek vir herstelwerk is op 9 Mei by Erfenis Wes-Kaap ingedien, en al die betrokke departemente wag nou op dié goedkeuring. Erfenis Wes-Kaap het dertig dae tyd om die aansoek te oorweeg.”
Die projek kan eers begin nadat alle rolspelers goedkeuring vir die herstelwerk gegee het.
“Afhangende van die voorwaardes van Erfenis Wes-Kaap sal dit tien maande duur om die pad weer in gebruik te neem. Maar die geraamde tydperk vir voltooiing van die hele projek word op vyftien maande gereken.”
Volgens La Hoe word die koste van die projek op tussen R25 miljoen en R30 miljoen gereken, “maar ook dit hang af van die insette van rolspelers soos Erfenis Wes-Kaap. Samewerking tussen verskillende instellings is noodsaaklik. Behalwe Erfenis Wes-Kaap is die ander betrokkenes die departement vervoer en openbare werke, die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit, die departement omgewingsake en die departement water en sanitasie.”
La Hoe sê dis duidelik dat Prins Albert se toerismebedryf die ergste geraak word. “Toegang tot die Swartbergpas en Gamkaskloof is nie moontlik via Prins Albert nie, en toeriste moet ’n ompad ry via Oudtshoorn.”
Altesame 2,38 km van die pad is beskadig, naamlik die gebied tussen die Dorpsrivierbrug aan die noordekant van die pas, sowat 5 km van Prins Albert, en Malvadraai.
“Die Swartbergpas is ’n nasionale erfenisgebied en ’n historiese en omgewingsensitiewe gebied. Die erfeniswaarde van die terrein moet behoue bly, met ’n minimale uitwerking op die omgewing,” het La Hoe gesê.
Navrae van Die Hoorn aan rolspelers in die gastehuisbedryf in Prins Albert het bevestig dat toeriste inderdaad al besprekings gekanselleer het toe hulle van die toestand van die pas verneem het.