Swartbergpas dalk oor ses maande oop

Die Swartbergpas wat tans gesluit is.  Foto: Marlene Malan

Die Swartbergpas wat tans gesluit is. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
DIE vloedskade aan die noordelike kant van die Swartbergpas is so omvattend dat die pad vanaf Prins Albert tot by Die Hel se afdraaipad na raming ses maande lank gesluit sal wees.

So sê dr Annelie Rabie, inwoner van Prins Albert en lid van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit (SKDM), nadat meer as twee kilometer van die pad op Sondagaand 9 April ná ’n wolkbreuk en flitsvloed weggespoel het. Die Hel kan steeds vanaf Oudtshoorn bereik word. Volgens Rabie sal ’n tenderprosedure vir herstelwerk waarskynlik gevolg word.

“Die departement van vervoer van die Wes-Kaap het onmiddellik aandag aan die probleem gegee, saam met die SKDM en ’n span ingenieurs. Ons verwag dat dié padgedeelte vir omtrent ses maande toe gaan wees.”

Byron la Hoe, woordvoerder van dié departement, het op navraag gesê sowat 2,38 km van die pas van net oor die 25 km is beskadig. “Die omvang van die skade word steeds ondersoek, sowel as ’n herstelstrategie en om die nodige goedkeu­ring van owerhede hiervoor te kry.”

Volgens hom begin die skade by Malvadraai en eindig by die Dorps­rivier aan die Prins Albert-kant.
“Die pas is vir alle publieke toegang gesluit, wat voetgangers en stappers insluit, vanaf die afdraaipad van Gamkaskloof, of Die Hel, tot by die afdraaipad na die plaas Scholtzkloof buite Prins Albert. Hierdie stuk pad kan nié per motor bereik word nie, en word as onveilig beskou vir enige openbare toegang. Ons vra die publiek om hieraan gehoor te gee.”

Volgens La Hoe “is die Swartberg ’n nasionale erfenis- en omgewingsensitiewe gebied. Dit vereis interaksie en samewerking met alle tersaaklike ower­heidsinstellings, wat die departement vervoer en openbare werke insluit, asook die departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, die departement waterwese, CapeNature en Erfenis Wes-Kaap om te verseker dat die herstelwerk suksesvol en spoedig afgehandel word. Ons departement het goedkeuring ontvang van omgewingsake en ontwikkelingbeplanning om ’n opname van die skade te maak en waardeer hul samewerking. Ons sal met alle ander tersaaklike rolspelers kommunikeer om te verseker dat die erfeniswaarde van die pad behou word en die minimum ontwrigting van die omgewing plaasvind.”

Volgens dr Sue Milton-Dean, botanikus en mede-eienaar van Renu-Karoo Veld Restoration op Prins Albert, het die brand verlede jaar in die berg, met die gepaardgaande verlies aan plantegroei sowel as die ernstige droogte in die gebied, ongetwyfeld bygedra tot die kragtige vloei van die reënwater in die berg.
“Flitsvloede word vererger weens die verlies aan plant-grondbedekking. Natuurlik het die groot brand wat verlede jaar in die berg gewoed het tot ’n baie vinniger vloei van die reën in die klowe veroorsaak. Dit het gelei tot flitsvloede, ook in Meiringspoort en die Prins Albert-vallei, tussen dié dorp en Klaarstroom.”
Die pas is in Februarie en Maart verlede jaar teen sowat R4 miljoen opgeknap. Daar is veral gewerk aan die boonste padlaag van sowat 100 mm om verdere skade aan die klipstutmuur te keer en ook waterdreinering te verbeter. Die Swartbergpas is tussen 1881 en 1888 gebou, en nou – ná die flitsvloed – is die inge­wikkelde klipkonstruksie­werk van Thomas Bain en sy 250 werkers duidelik sigbaar by die beskadigde deel van die pad.