Suff Academy en Oudtshoorn Youth Café is altyd reg vir aksie

Bo: Filmproduksie-studente,saam met die fasiliteerder, Eugene Hendriks. Al die studente het die kursus suksesvol voltooi en ’n sertifikaat ontvang. Foto: Geraldine Amsterdam-America

Die Suff Academy en Oudtshoorn Youth Café, het saam hande gevat om ’n kursus aan te bied wat daarop fokus om die gaping tussen werk en studies te oorbrug.

Suff Acadamy en die Youth Café is beide deel van die Departement van Sosiale Ontwikkeling.

Die Suff Academy het die afgelope paar jaar uitgebrei en het nou ’n spesiale fokus op tegnologie, ontwikkeling van verskeie vaardighede, wat onder andere ook werksgereedheidsprogramme insluit. Daar is geen kostes aan die kursusse verbonde nie.

Kay-Lee Piedt is tans die waarnemende bestuurder en het die leisels oorgeneem by Ray Carstens.

Kursusse wat in Februariemaand aangebied was, was onder andere ’n vierdag-projekbestuurderskursus, sowel as ’n inleiding tot filmproduksie. Kursusgangers is blootgestel aan onder meer die skryf van tekste, hantering van kameras, sowel as redigering.

Na afloop van die kursus kon studente hul nuutgevonde vaardighede gebruik met die skep van ’n 3-minute kortfilm.

The Cover Letter en Started From The Bottom, fokus op verskeie temas, bv. alkoholmisbruik, gesinsgeweld en veerkragtigheid en hoe negatiewe omstandighede omskep kan word in iets positief.

Die kursus is deur Eugene Hendriks aangebied. Hendriks was betrokke by verskeie produksies soos The Bachelor in die lande Finland, Samoa, Ierland en Duitsland.

Die kursus word deur die Universiteit van Wes-Kaapland geakkrediteer en elke persoon wat dit suksesvol voltooi ontvang ’n sertifikaat. Volgens Hendriks het die filmproduksie-gogga hom die eerste keer gebyt toe hy in 2010 sy eerste kursus bygewoon het by dié organisasie. “My droom is dat elke jongmens ’n breër visie vir hulself sal hê en buite hul gemaksone begin beweeg”, het hy gesê. Hy het ook die geleentheid gekry om in 2013, ’n 3-maande-uitruilprogram in Noorweë te kon bywoon.

Sy prestasies is ’n duidelike teken dat kursusse wat aangebied word by Suff Academy en Oudtshoorn Youth Café, persone in staat kan stel om toegang te kry tot beter geleenthede.

Belangstellendes kan die Youth Café in Voortrekkerweg, Oudtshoorn besoek om meer uit te vind oor opkomende kursusse. Hier sal beslis iets wees wat elkeen se belangstelling sal prikkel. Ander dienste sluit ook in hulp met die opstel van CV’s.

Persone word uitgenooi om gebruik te maak van die verskeie dienste wat daar beskikbaar is. (Deur Geraldine Amsterdam-America)