Sterk kompetisie vir Outeniqua 600

Puck Klaassen in aksie. Foto: Dave Ledbitter

Louvain Gasteplaas, sowat 50 km vanaf Oudtshoorn gaan vanaf 8 tot 10 Mei gasheer speel wanneer renjaers deelneem aan die Century Property Developments/Century Racing Outeniqua 600.

Plaaslike én internasionale spanne maak gereed vir die die openingsronde van die 2026 Suid-Afrikaanse Rally-Raid Kampioenskap, wanneer hulle oor die drie dae sowat 640 km aflê.

Die seisoen sou aanvanklik in Maart begin, maar moes uitgestel word weens bek-en-klouseer. Daar wag ’n strawwe uitdaging op deelnemers, maar ook die geleentheid om punte te verdien wat ’n groot rol in die res van die kampioenskappe kan speel.

Die wedren, wat deur deelnemers as hul gunsteling van 2025 aangewys is, lok vanjaar ’n indrukwekkende inskrywingslys met bekende name, nuwe span-kombinasies en nie minder as 11 internasionale deelnemers.

Verdedigende kampioene Saood Variawa en sy Franse navigator, Francois Cazalet, sal weer hier wees en hoop om dié keer hul merk te maak in die Upper Langkloof.

Spanmaats Guy Botterill en Oriol Mena Valdearcos sal ook mik om van die begin af die voortou te neem.
Jong Sa’aad Variawa, saam met ervare navigator Wade Harris, sal poog om hul seisoen sterk af te skop.

In die uiters kompeterende Ultimate FIA T1+-klas sal onder andere die voormalige kampioene Giniel de Villiers en Dennis Murphy weer hul kans vat, terwyl Ford met vyf Castrol NWM Ford Rally-Raid spanne hul teenwoordigheid laat geld. Gareth Woolridge en Boyd Dreyer sal veral gemotiveerd wees nadat hulle verlede jaar net-net tweede geëindig het.

Daar is ook nuwe en interessante inskrywings, met verskeie spanne wat vir die eerste keer aan die Outeniqua Rally deelneem.

In die ander klasse sal daar ook strawwe kompetisie wees, met jong talent en ervare jaers wat stof in mekaar se oë gaan skop. Die wedren begin Vrydagoggend met ’n 55 km kwalifiseringsronde wat die wegspringvolgorde bepaal.

Daarna volg verskeie uit-dagende skofte oor die drie dae, met die hoofkwartier, wegspring- en eindpunt by Louvain Gasteplaas.

Motorsport-entoesiaste kan die aksie volg via die RallySafe-toep, sowel as op sosiale media-platforms.
Met ’n sterk veld en uitdagende roete lê alles gereed vir nog ’n opwindende hoofstuk in die Suid-Afrikaanse Rally-Raid reeks.