Dysselsdorp-inwoners ontvang helpende hand op Vryheidsdag

Mario Oktober het tydens die uitreik gehelp en ook hondekos aan van die diere in die gebied uitgedeel.

Die organisasie Sentiara het op Vryheidsdag, 27 April, ’n uitreikaksie in Dysselsdorp buite Oudtshoorn gehou waar talle inwoners, kinders en diere bygestaan is.

Met behulp van skenkings uit die organisasie se tweedehandse winkel, asook die Generosity Shop in Mosselbaai, is klere aan behoeftige gemeenskapslede uitgedeel.

Meer as 80 kinders is ook met warmbrakke gevoer, wat volgens die organiseerders groot glimlagte en vol mae gebring het. Benewens die ondersteuning aan inwoners, is daar ook aandag aan dierewelsyn gegee.

Altesaam 80 kg hondekos is versprei om troeteldiere in die gebied te help versorg. Basiese sorg en ondersteuning vir honde was ook deel van die dag se aktiwiteite.

Volgens Sentiara weerspieël die uitreiking die organisasie se fokus op opvoeding en om ’n werklike verskil te maak waar dit die nodigste is.

“Ons kon aan geen beter manier dink om Vryheidsdag te vier as om terug te gee, vriendelikheid te versprei en ’n verskil te maak waar dit saak maak nie,” het Salome Bruyns van Sentiara gesê.

Sentiara het almal bedank wat deur skenkings en ondersteuning gehelp het om die dag moontlik te maak.

Saam met die warmbrakke het van die jong kinders ook ’n sagte speelding ontvang.