Gertjie Thysse (47, links) se motorfiets het Sondag na ’n ernstige motorfietsongeluk op die Robinsonpas uitgebrand waarna omstanders moes keer dat die brand versprei (onder). Foto’s verskaf

Deur Angelique Erasmus
’N BEKENDE en ervare motorfietsryer en polisiebeampte van Oudtshoorn, Gertjie Thysse (47), word steeds in die hoësorgafdeling van die Mediclinic George behandel nadat hy Sondagmiddag ernstig beseer is in ’n motorfietsongeluk op die Robinsonpas.
Hy was gisteroggend steeds onder verdowing.
“Dokters het hom egter van alle medikasie afgehaal sodat hy kan begin wakker word,” het sy broer, Corné, gister aan Die Hoorn gesê.
Die poging om hom wakker te maak is Dinsdag tydelik gestaak as gevolg van drukking op die brein en hoë bloeddruk.
Volgens Corné het Gertjie reeds twee operasies aan sy been, wat op drie plekke gebreek het, ondergaan. Maandag is tydelike plate en skroewe ingesit, en Dinsdag permanente plate en skroewe.
Hy het ook sy bladbeen gekraak, en ’n skedelfraktuur opgedoen. “Volgens die dokter sal dit sowat 14 dae neem vir die bloeding op sy brein om op te klaar,” sê Corné.
Thysse was die oggend saam met ander motorfietsryers by ’n Cupcakes of Hope Foundation-motorfietsrit in Mosselbaai, wat fondse vir kinders met kanker ingesamel het.
Die ongeluk het plaasgevind op pad terug Oudtshoorn toe.
Corné het kort na die ongeluk op sy broer afgekom. “Dit was ongelooflik traumaties, veral omdat mens so hulpeloos voel.”
Gertjie is op die toneel gestabiliseer en per helikopter na die George Hospitaal geneem waarvandaan hy na die George Mediclinic oorgeplaas is.
Daar word vermoed dat Gertjie, wat aan hoë bloeddruk ly, moontlik ’n breinfloute gehad en beheer oor sy motorfiets verloor het.
Sy motorfiets het uitgebrand en omstanders op die toneel moes die vuur help blus om te verhinder dat dit versprei.
Gertjie is ’n ervare motorfietsryer, sê Corné.
“Ek en my broer ry reeds vandat ons jonk was motorfiets. Ons sal moet wag om te hoor wat gebeur het wanneer hy wakker word.”