Steeds geen antwoord oor gevaarlike draai

Skade aan die versperrings is duidelik sigbaar by die gevaarlike draai naby die stasie net buite Oudtshoorn op die Rooiheuwelpad. Foto Angelique Erasmus

DIE skerp draai naby die stasie op die Rooiheuwelpad net buite Oudtshoorn, is nie net gevaarlik vir motoriste nie, die toestand van die skrumrelings en brug is kommerwekkend.

Oor die jare het talle ongelukke hier plaasgevind, met motoriste en vragmotorbestuurders wat hulle misgis met die draai en dan in ’n kanaal beland, wat onderdeur die pad loop.

Die pad dra swaar verkeer, met baie vragmotors wat voer van elders in die land karwei en inwoners van Oudtshoorn wat daagliks afvalwater by die rioolwerke gaan tap.

In Februarie 2017 moes tien beeste uitgesit word ná die vragmotor wat die diere vervoer het, omgeslaan en langs die pad oor die kanaal geval het.

Die Hoorn het op 18 Julie 2019 berig oor ’n vragmotor wat lusernbale vervoer het, wat deur die betonkeermuur gebars het. Die bestuurder het op die toneel gesê dat hy nie die draai gesien het nie.

Die koerant het toe ’n navraag aan die munisipaliteit gerig, wat nie beantwoord is nie.

Toe Die Hoorn die draai einde Januarie vanjaar besoek het, was dit duidelik dat die versperrings aan beide kante van die pad op verskeie plekke erg beskadig is en die helfte van die betonkeermuur weg is as gevolg van vorige ongelukke.

Daar steek ook ysterstawe uit, wat gebruik word om die beton te versterk.
Daar is geen padtekens wat motoriste teen die skerp draai waarsku nie.

’n Inwoner van Rooiheuwel wat toe met Die Hoorn gesels het, het gesê die padtekens, in Oudtshoorn se rigting, is reeds ’n geruime tyd gelede afgery en is nog nooit vervang nie.

Die Hoorn het daarna wéér foto’s aan die munisipaliteit gestuur wat die toestand van die versperrings en die afwesigheid van padtekens uitwys en weer gevra vir kommentaar.

Dit blyk dat daar verwarring was oor wie verantwoordelik is vir dié stuk pad. Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit en die provinsiale verkeersdepartement het egter bevesig dié stuk pad, tot en met 600 meter vanaf die afdraai oor die brug in George se rigting, is die verantwoordelikheid van die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Ná nog ’n opvolg is terugvoer dié week ontvang, ses maande ná die aanvanklike media-navraag. Paul Muller, senior bestuurder van die departement strate en stormwater by die Oudtshoorn Munisipaliteit, het per Maandag 17 Februarie per e-pos opdrag gegee aan Jean Cox om dringend met Die Hoorn kontak te maak oor die beplande datums vir die herstel van die skrumreëlings asook die aanbring van die nodige padtekens.
• Teen saktyd, Woensdag, is geen terugvoer nog ontvang nie. (Deur Angelique Erasmus)

Be the first to comment on "Steeds geen antwoord oor gevaarlike draai"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*