Eens een van wêreld se beroemdste veldatlete

John van Reenen sowat vier jaar gelede in sy ateljee. In die agtergrond is ’n selfportret wat hy geskilder het. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
VEERTIG jaar gelede was John van Reenen een van Suid-Afrika – en die wêreld – se beroemdste veldatlete wat ’n doodse stilte oor skares sportgeesdriftiges laat toesak het wanneer hy aantree vir diskusgooi of gewigstoot.
Dinsdagaand het die lang, eens forsgeboude sportlegende op die ouderdom van 71 op Calitzdorp gesterf ná ’n lang siekbed, weens ’n liggaam “wat maar net ingegee het”, het sy vriend, Charlie Nunn van Oudtshoorn, aan Liesel le Roux gesê.
Nunn het Van Reenen nog verlede Saterdag besoek. “Hy was maar broos, en die laaste tyd baie eensaam.”
Ek sal John op twee maniere onthou: Die een keer toe ek hom vier jaar gelede ontmoet het en ’n oggend saam met hom by sy vorige huis op ’n bultjie buite De Rust gekuier het; en voorheen, in die jare sewentig, toe hy by die gewilde Tweede Kersdag-sportbyeenkoms in die Paarl opgetree het.
Almal het na die atletiekbaan gestroom om die groot atleet te sien wat in 1975 ’n wêreldrekord van 68,48 meter in diskusgooi aangeteken het. Hy het ook gereeld nasionale kampioenskappe in Brittanje en in Suid-Afrika gewen.
In De Rust het John my in sy rolstoel ontmoet. Sy regtervoet het hy verloor nadat ’n operasie om infeksie uit sy voet te sny, skeefgeloop het. Dit was nadat hy in ’n stok getrap het en ’n seer ontstaan het wat nie wou herstel nie. Die seerplek is uitgesny, maar – volgens Van Reenen – is hy as diabeet verkeerd behandel.
Die skoknuus was dat hy óf sy voet óf sy lewe gaan verloor, omdat gangreen ingetree het en sy niere beskadig is. Daarna is ’n deel van sy been, tot so 5 cm onder sy knie, afgesit.
Dis sy gemoedelikheid en breë glimlag wat my egter sal bybly. Hy het behendig koffie vir ons gemaak, omdat sy kombuis op rolstoelvlak ingerig was. Hy het bly skilder en etswerk doen – grafiese kuns was immers die beroep waarvoor hy opgelei was en wat hom in sy jong dae na die Universiteit van Washington en die Universiteit van Stellenbosch geneem het.
Hy het geesdriftig gepraat oor sy kunswerke en die simboliek daarvan, en nie omgegee om afgeneem te word nie. Maar ook vertel dat sy gebrek veroorsaak het dat hy sy hele leefstyl moes verander. Om stoelgebonde en afhanklik te wees, om nie meer met sy hond in die berge te kon gaan stap nie, was moeilik. Uiteindelik moes hy sy huis in die berge prysgee weens die uitdagende terrein. Hy het Calitzdorp toe verhuis waar hy ’n kunsgalery begin het.
“En ek mis dit om nie meer voor ’n doek te kan staan en skilder en terug te tree vir perspektief nie,” het hy gesê “Ek is nie bitter nie. Net geskok. Ek probeer my bes om aan te pas en aanvaar my hele lewe is in ’n nuwe rigting gedwing. Maar ek het baie verloor en moet my hele lewe herbeplan. Dit wys jou net – die een dag is jy nog op dreef, vol toekomsplanne, maar dan, in ’n oogwink, verander alles.”
Nunn sê sy vriend sal vir hom altyd ’n kampioen bly. “Dankie vir die tye wat ons saam kon deurbring.”