Soek jy ’n toekoms in die filmbedryf?

’n Paar van die "gesoute fassiliteerders" wat by die program betrokke is, is van links Marius Murths, plaaslike en internasionale filmprodusent en stigter van Quadrant Media Advisory; Eldene Jones, aktrise, regiseur en stigter van E-Entertainment; en Duwayne Murphy, filmproduksie- en vaardigheid programkoördineerder. (Foto verskaf)

Is jy tussen 18 en 35 jaar oud? Is jy werkloos? En nog meer belangrik; het jy die wil en die passie om in die filmbedryf naam te maak – nie net voor die kameras nie, maar agter die skerms ook? Dan is die Oudtshoorn Film Bootcamp net vir jou!

In samewerking met E-Entertainment, bied Quadrant Media Advisory ‘n vyfdag filmbedryf-werkswinkel vir 30 werklose jeugdiges aan, wat vanaf 21 tot 25 Junie gratis bygewoon kan word vir diegene wat graag wil weet hoe die filmbedryf werk, en hoe om betrokke te raak daarby.

Die werkswinkel sal by die Verenigde Gereformeerde Kerk in Colridge View aangebied word.

Die idee agter die werkswinkel, wat deur plaaslike en internasionale fasiliteerders aangebied sal word, is om filmproduksie onder die jeug op te wakker. Onderwerpe soos onder meer die basiese beginsels van films maak, filmfinansiering en gemeenskapsproduksies, draaiboekskryf, filmverspreiding en die boublokke van toneelspel sal behandel word. Sosiale media bemarking sal ook hanteer word.

Volgens Duwayne Murphy, een van die fasiliteerders, is die span baie opgewonde oor die werkswinkel, en watter vrug dit mag dra.

Die span sluit Michael S Murphey, internasionale filmprodusent en stigter van die Documentary Institute of South Africa; Marius Murths, plaaslike en internasionale filmprodusent en stigter van Quadrant Media Advisory; Eldene Jones, aktrise, regiseur en stigter van E-Entertainment; en Murphy self, ’n filmproduksiekoördineerder en vaardigheid programkoördineerder, in.

Aan die einde van die werkswinkel beoog die organiseerders om twee dokumentêre films, en een toerisme aksiefilm te vervaardig wat wyd op sosiale media versprei sal word. ’n Handvol van die jong toekomstige filmmakers sal ook uitgekies word om ’n driemaandlange in-diepte kursus te voltooi.

Skakel Murphy op 074 045 6942 vir meer inligitng.