Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid, sê net soos hospitale sal klinieke steeds oop wees vir noodsaak- like dienste gedurende die 21 dae-inperking.
Kroniese pasiënte sal steeds hul medikasie kan afhaal en hoef volgens haar nie eers hul leërs te trek en vir observasies te gaan nie.
Slegs pynmedikasie sal aan pasiënte gegee word in gevalle vir tandheelkundige propbleme.
Arbeidsterapeute, fisioterapeute, oudioloë en dieetkundiges sal egter nie tydens die inperking beskikbaar wees nie.
Ferreira sê alle nie-noodsaaklike chirurgie op pasiënte word gestop, terwyl afsprake met spesialiste ook uitgestel is. Die enigste uitsondering is swanger vroue.
Alle sonarafsprake word geherskeduleer, behalwe in die geval van swangerskap. Dieselfde geld vir alle X-strale.
“Niemand wat gesond is en geen simptome het nie, sal vir COVID-19 getoets word nie. Slegs mense wat aan die toetskriteria van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes voldoen, sal by hospitale en geselekteerde klinieke getoets word.”
• Daar is aanlyn ’n selfassesseringsvorm beskikbaar by www.westerncape.gov.za/department-of-health/risk-assesment-form (Deur Angelique Erasmus)
So beïnvloed inperking die gesondheidsdienste
