HOEWEL die feesgangers vandeesweek (die week wat die KKNK sou plaasvind) afwesig was as gevolg van die kansellasie van die fees, het Oudtshoorn tog oor die naweek in feestelike kleure gepryk met verskeie bome, pilare en heinings wat met hekel- en breiwerk versier is.
Die hekel- en breiwerk, deel van die plaaslike reWOLusie-projek wat vroeër vanjaar met ’n Fiësta bekroon is, het vanjaar veral uit komberse bestaan, wat sal deel uitmaak van die 67 blankets-projek.
Absa, wat as borg van die KKNK ook by dié projek betrokke is, wil vanjaar poog om die wêreldrekord te breek vir die grootste kombers. Hulle beoog om 6 700 kleiner komberse te gebruik om die groot kombers te maak, iets waartoe Oudtshoorniete waarskynlik die grootste bydrae sal maak.
Madeleine Miles, stukrag agter die projek, sê mense se terugvoer oor die hekel- en breiwerk in die dorp was “ongelooflik positief’.
“Ons wou graag steeds vanjaar ons wolwerk opsit, ons het hard daaraan gewerk en ons wou die mense in die dorp, iets gee om oor te glimlag, al was dit net vir ‘n paar minute.”
Die reWOLusie het Saterdagaand ’n terugslag gekry toe van die komberse in die middedorp gesteel is, hoofsaaklik van die pilare by die Burgersentrum.
Miles sê ’n lid van die publiek het hulle gewaar en die Polisie laat weet wat al die komberse teruggekry het. “Baie dankie aan die Polisie vir hulle blitsige optrede.”
Die diewe is in hegtenis geneem en het oornag in die polisieselle geslaap.
Hoewel van die brei- en hekelwerk steeds op die dorp te sien is, is die meeste reeds as gevolg van die inperking verwyder.
Boom van Eenheid verrys by ingang
Behalwe vir Absa se betrokkenheid by die reWOLusie-projek, het die oprigting van hul groot Maakit Mooi-installasie by die een dorpsingang van Oudtshoorn gister, ’n nuwe baken na Oudtshoorn gebring.
’n Massiewe Boom van Eenheid staan sedert gisteroggend by die ingang vanaf Calitzdorp. Dié boom is gebou ter ere van die sogenaamde skewe boom buite Oudtshoorn langs Zeelandsnek wat verlede jaar in Mei deur die Departement Vervoer verwyder is.
Die boom se meters-hoë stam is van sowat 3 800 ekostene gebou terwyl die blare in die vorm van ’n “kroon” bo-op die stam die simbool is van hoop en voorspoed vir Oudts-hoorn.
Dit is deur Anton Roetz en Callie Koch gebou.
Die rooi stam simboliseer die kleur van die rooi koppe oral om Oudtshoorn.
• kykNET het die naweek op Oudtshoorn opnames gemaak oor onder meer die reWOLusie vir ‘n program wat eersdaags op Fiësta uitgesaai word. (Deur Liesel le Roux)