Snare sing by vanjaar se Klassique

Die bekende Zanta Hofmeyr wat by Klein Karoo Klassique te sien sal wees in Violin Dialoque, wat in 2018 die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek bekroon is én aangewys is as die beste klassieke musiekproduksie by Aardklop.  Foto verskaf

Gehore by vanjaar se 11de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn kan uitsien na ’n keur van produksies met snaarinstrumente, bespeel deur verskeie bekroonde kunstenaars.

• In Sublime String Quartets from Bohemia neem die Amici Strykkwartet, een van Suid-Afrika se voorste kamermusiek-ensembles, die gehoor op ’n reis deur werke van die voorste strykkwartetkomponiste in die geskiedenis – Mozart, Haydn, Beethoven, Schubert en Dvořák. Suzanne Martens (eerste viool), David Bester (tweede viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello) is op Sondag, 11 Augustus, om 11:00 in die NG Moederkerk te sien in hierdie uitvoering.

• Violin Dialogue is in 2018 met die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek én beste klassieke musiekproduksie by Aardklop bekroon. Die twee befaamde Suid-Afrikaanse en Bulgaarse violiste Zanta Hofmeyr en Miro Chakaryan deel hul liefde vir die instrument in ’n musikale dialoog met werke van Wieniawski, Sarasate, Leclair, Shos­ta­kovich en Moszkowski. Chakaryan is die konsertmeester van die Johannesburg­se Filharmoniese Orkes en Hofmeyr be­kend as konsertviolis en viooldosent. Hulle word in die uitvoering op Saterdag, 10 Augustus, om 10:30 deur die pianis Olive Sandilands begelei.

• In Trio du Cap Classique op Vrydag, 9 Augustus, om 10:30 kombineer David Pinoit (tjello), Liesl Stoltz (fluit) en Fran­çois du Toit (klavier) werke vir tjello, fluit en klavier, waaronder Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, asook CM von Weber se Trio in G-mineur Opus 63. Die program eindig met Herfs deur die Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla. Stoltz en Du Toit, albei bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, het in 2018 die trio saam met die Franse musikant, Pinoit gestig. Hulle is elkeen internasionaal-erkende musici en het regoor Suid-Afrika, Europa, Asië en die VSA gestudeer en opgetree.

• La Femme! – A Celebration of Music and Dance is ’n visueel en ouditief beto-werende produksie. Dit kombineer die passie van Flamenco-dans met die sensuele klanke van klassieke kitaar. Die internasionaal bekroonde danser en choreograaf Tanya Diamond en konsert-kitaarspeler en lektor Nina Fourie-Gouws speel op Donderdag, 8 Augustus, om 18:30 werke van Albéniz, Brouwer, Barrios, Domeniconi, Ibert, Tárrega en Vivaldi. Lede van die SoloFLAMENCO dansstudio bied tradisionele Spaanse begeleiding, met onder meer kastanjette, klapkassies en palmas.