Ses maande vir man wat volstruisvere wou steel

Oudtshoorn Landdroshof.

Oudtshoorn Landdroshof.

Twee mans van Bridgton wat op heterdaad betrap is terwyl hulle volstruisvere van die volstruisslagpale wou steel, is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof aan poging tot diefstal skuldig bevind en gevonnis.

Godwill Botha (28) en Joseph Schoeman (28) het erken dat hulle op 3 Februarie vanjaar probeer het om sakke volstruisvere ter waarde van sowat R400 te steel om te gaan verkoop.

Landdros Lorraine Samuels het met vonnisverrigtinge gesê die twee het beplan om die vere te steel, maar in ag geneem dat hulle skuldig gepleit het.
“Die volstruisbedryf is ’n groot bron van inkomste en maak ’n groot impak op die ekonomie van die dorp,” het sy gesê.

Botha, wat ses vorige veroordelings het, is 12 maande gevangenisstraf opgelê waarvan ses maande voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, terwyl Schoeman, met een vorige veroordeling, ’n vonnis van 12 maande gevangenisstraf opgelê is wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. (Berig deur Garnett Wicomb)