Buitelanders vas na diefstal van ornament by Black Swan

Die duidelik verligte eienaars van die Black Swan Restaurant gisteraand saam met ao May en konst Saptou van die Oudtshoorn Polisie wat die twee verdagtes vasgetrek het.

Die duidelik verligte eienaars van die Black Swan Restaurant, Etienne Swiegelaar en Daniël Terblanche, gisteraand saam met ao May en konst Saptou van die Oudtshoorn Polisie wat die twee verdagtes vasgetrek het.

Die Oudtshoorn Polisie het gisteraand blitsvinnig twee buitelandse besoekers aan Oudtshoorn vasgetrek nadat hulle na bewering ‘n keramiek-ornament uit die Black Swan Restaurant gesteel het.

Die twee besoekers, ‘n man en vrou wat na verneem word van Swede kom, is op kringtelevisie vasgevang waar hulle die restaurant verlaat en die vrou die ornament, ‘n wit skedel van ‘n bees gemaak deur Ceramic Factory, optel van ‘n tafel en saamneem.

Volgens die restaurant se facebook-blad het die restaurant se bestuurder, Corlu Nel, hulle buite die restaurant met die ornament gesien en daaroor gekonfronteer, maar het hulle net hul motor gesluit en weggery. In dié proses het die motor oor Nel se voet gery.

Daar is onmiddellik na die voorval op die restaurant se facebook-blad besonderhede van die voertuig en besoekers geplaas en hulp gevra van inwoners en ook ‘n klag by die polisie ingedien. Die man en vrou is kort daarna in hegtenis geneem.