• Bedrog en geldwassery
Deur Liesel le Roux
’N VOORMALIGE mannekrag-klerk in die Oudtshoorn Munisipaliteit, Thandile Wilbarforce Salman (34), is Dinsdag tot effektief ses jaar gevangenisstraf in die Bellville Handelsmisdaadhof gevonnis nadat hy einde Julie skuldig bevind is aan bedrog en geldwassery.
Salman is skuldig bevind op vyf aanklagte van bedrog en een van geldwassery. Hy is tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis maar drie jaar daarvan is vir vyf jaar opgeskort.
Verskeie mediaberigte die afgelope week het foutiewelik na Salman as ’n “voormalige munisipale bestuurder” van Oudtshoorn verwys. Salman is volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, op 1 Augustus 2008 aangestel as ’n klerk in die munisipaliteit se mannekrag-afdeling. Hy het op 23 Maart 2010 bedank en is weer tydelik aangestel van 1 Augustus 2014 totdat sy kontrak op 30 June 2015 verval het.
Volgens kapt Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke), is Salman daarvan aangekla dat hy tussen Julie 2008 en Januarie 2010 onwettig ’n konsep- of pro forma-faktuur en kwotasies verkry het. Hy het dan fakture / kwotasies opgestel wat hy voorgegee het uitgereik is deur wettige diensverskaffers vir werk gedoen en het ook getekende betalings daarvoor aangevra. Die geld is volgens Ramovha in bankrekenings van vriende en familie inbetaal waartoe Salman toegang verkry het en het tot ’n verlies van bykans R410 000 vir die munisipaliteit gelei.
Salman is in 2012 in hegtenis geneem nadat die Valke die saak ondersoek het.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, het gister die hofuitspraak verwelkom. “Dié vonnis kan as waarskuwing teen korrupsie dien vir ander munisipale amptenare om hul take uit te voer soos die publiek van hulle verwag. Dit stuur ’n sterk boodskap uit dat – al duur dit soms jare – die reg sal geskied.
Die Wes-Kaapse hoof van die Valke, genl.maj. Nombuso Khoza, het ook die uitspraak verwelkom en die ondersoekspan geloof. “Korrupsie is teenproduktief vir effektiewe bestuur, en gegewe ons grondwetlike mandaat om dit te beveg, sal ons nie rus om te verseker dat dit beveg word nie. Ons hoop dit sal korrupte amptenare afskrik.”