Die toneel verlede Vrydag (bo) kort na die botsing. Regs sien noodpersoneel om na van die beseerdes. Foto’s: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
VYFTIEN persone is verlede Vrydag in die Oudtshoorn Hospitaal se noodeenheid behandel nadat ’n Toyota Quantum-minibus-taxi in Jonesstraat omgeslaan het na ’n botsing met ’n blou Hyundai. Die taxi het op sy dak teen ’n muur tot stilstand gekom.
Die taxi se 18 passasiers en bestuurder, Robert Davids, was aanvanklik in die omgekeerde taxi vasgekeer, terwyl mense van buite gesukkel het om die agterdeur oop te kry.
Davids is na die hospitaal geneem met nek- en rugbeserings. Verskeie van die ander beseerdes het ook nek- en rugbeserings opgedoen.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid, is die meeste insittendes van die taxi vir sagteweefselbeserings behandel en die aand reeds ontslaan.
“Ses van die pasiënte is in die hospitaal opgeneem met twee wat na die George Hospitaal oorgeplaas is vir verdere behandeling.”
Volgens David Maksella, bestuurder van die Hyundai, wou hy regs draai toe die taxi sy kar getref het. Die botsing het omstreeks 13:14 plaasgevind.
’n Video van die ongeluk wat op die Facebook-blad Oudtshoorniete staan saam gedeel is, toon hoe die Hyundai na regs begin beweeg om regs in Pleinstraat in te draai, terwyl die taxi ook na regs beweeg om by die Hyundai verby te gaan. Die taxi tref dan die Hyundai regs voor op sy neuskant waarna die taxi omslaan en op sy dak oor die pad tot teen ’n muur skuif.
Remmerke op die pad het sowat 50 meter ver gestrek. Kapt Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.