Seëls versprei die boodskap van bye wêreldwyd

Foto verskaf

Foto verskaf

Die SA Poskantoor het pas ‘n stel seëls getiteld “Bye vir Afrika” bekend gestel. Die seëlvel en eerstedagkoevert is deur Jessica Delaney, ‘n student by die Open Window Institute for Arts & Digital Sciences in Centurion, ontwerp.

In bewaringskringe is daar groot kommer oor die dalende getalle heuningbye, hoofsaaklik as gevolg van besoedeling en die wydverspreide gebruik van gifstowwe.

Daar bestaan rede tot kommer. Bye is baie meer as net heuningprodusente. Hulle verskaf ‘n noodsaaklike bestuiwingsdiens aan plante (en boere). Daarom loop duisende plantsoorte gevaar om uit te sterf as heuningbye verdwyn en vrugte- en groeteboerdery sal feitlik onmoontlik word.

Heuningbye bestuif sowat 50 soorte kommersiële oeste in Suid-Afrika.

Suid-Afrika is ‘n tuiste vir die Afrikaby en Kaapse by. Die Kaapse by is hoofsaaklik tot Kaapse fynbosgebiede beperk en die Afrikaby bevolk die streke noord van die fynbos tot in Sentraal-Afrika.

Die seëls is geldige posgeld vir klein internasionale briewe, en dus sal duisende seëls bewustheid skep van bye en hul omstandighede soos dit deur die wêreld versend word.

Die seëls is by alle groot poskantoortakke beskikbaar en kan ook van sastamps@postoffice.co.za bestel word. Die koste is R9,15 per seël.