Dr Annelie Rabie (burgemeester van die Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit), prof Jannie Rossouw (ekonoom van Wits) en raadsheer Goliat Lottering (burgemeester van Prins Albert) by die driedag- ekonomiese beraad op Prins Albert. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
DIE jaarlikse salarisrekening van Suid-Afrikaanse plaaslike besture is – net soos provinsiale regerings en die nasionale regering – heeltemal buite beheer. Saam met toenemende diensleweringseise plaas dié toedrag van sake te veel druk op munisipaliteite en sy belastingbetalers.
So het prof Jannie Rossouw, ekonoom van Wits, Maandagaand op ’n ekonomiese beraad in Prins Albert, gesê. Die geleentheid is deur die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit (SKDM), onder leiding van dr Annelie Rabe (burgemeester), gereël.
Die beraad het tot Woensdagmiddag geduur, met Rossouw as hoofspreker.
In sy openingsrede het hy gesê die inhoud van sy toespraak “is nie vir sissies nie”, want hy kan nie goeie nuus gee oor die land se ekonomie nie “omdat ons onder die gevolge van die Zuma-administrasie ly. Zuma en sy meelopers het ons toekoms gesteel.
Die land moenie die eerste tekens van herstel voor middel-2020 verwag nie. Ons ekonomie groei nie juis nie – die groeisyfer is maar 1,6%. Verder is daar toenemend eise vir dienslewering, veral op plaaslikebestuursvlak. Ons sit met ’n werkloosheidsyfer van 27% en ’n onaanvaarbaar hoë bevolkingsgroei. Daar word elke jaar 900 000 babas gebore, wat ruimtelik beteken die grootte van sewentien dorpe so groot soos Beaufort-Wes is nodig om die nuwelinge te akkommodeer. Dis niks anders nie as ’n demografiese krisis. Ons inflasiekoers is 5,5%, wat heeltemal te hoog is. Daarom bly rentekoerse hoog – want dit moet bo die inflasiekoers wees.
“Die salarisse van die staat, op alle regeringsvlakke, is buite beheer. Dit grief my dat plaaslike besture met sulke reusagtige salarisrekenings sit, maar steeds ’n fortuin op konsultante bestee. Dié twee is wedersyds eksklusief. Ek soek en soek die antwoorde hierop, maar vind dit nie. Iets verskrikliks is verkeerd. Die land hét nie meer belasbare kapasiteit nie. Die idee bestaan dat, om inkomste aan te vul, moet belastings verhoog word. Maar nou het Suid-Afrika die punt bereik dat sy inkomste daal weens sy toenemende eise aan belastingbetalers. En ek praat van direkte belasting, nie iets soos BTW nie. Ons regering het ook aan die einde van sy pad van buitelandse lenings gekom.”
Die regering sal sy kabinet móét sny, het Rossouw gesê. “Daarby kos semi-staatsinstellings heeltemal te veel. Suid-Afrika is op die punt van ’n volgende kredietafgradering.”
Rossouw het ’n beroep gedoen op plaaslike besture “om jul uitgawestrukture te ondersoek. En hou op om buitelandse motors te koop – verander jul tenderprosedures dat julle plaaslik koop. Hier kan die SKDM ’n voorbeeld begin stel.”
Volgens Rossouw is talle plaaslike besture se salarisrekening ver bo 40%, “en die Overberg is een van die grootste oortreders”.
Rabie het gesê sy het met haar bewindsaanvaarding as SKDM-burgemeester ’n salarisrekening van 68% van sy begroting geërf, wat heeltemal buitensporig is. “Ons sal hierdie kanker op die een of ander manier moet uitsny.”
Toerisme en landbou is die Sentraal-Karoo se ekonomiese kern, volgens haar.
“Die twee moet geïntegreer word, en ons sal buite die boks moet begin dink. Klein dorpies sal nuwe lewe moet kry.”
Rossouw meen een van die land se grootste probleme is dat die regering geen duidelike beleid het oor onteiening sonder vergoeding nie.
“Dis veral vir die Karoo belangrik, waar landbou ’n groot rol speel. Soveel onsekerheid is sleg vir die ekonomie.”