Fietsry, gholfspeel en visvang is op Godfrey McCallum se lys vir die nabye toekoms as hy Vrydag sy kantoordeur by Sacred Heart Primêre skool agter hom toetrek. McCallum het pas sy 60ste verjaarsdag gevier en tree af as die skole vandag sluit.
Hy was die afgelope 10 jaar Sacred Heart se skoolhoof. Hy het sy onderwysloopbaan in 1988 in die Kaap begin, maar “toe gebeur daar in 1995 ’n belangrike ding, ek trou toe mos met ’n meisie van Oudtshoorn,” sê hy.
In 1996 aanvaar hy ’n pos by Kairosskool waar Poem Mooney die hoof was.
Skaars 18 maande later word hy as skoolhoof by Roodewal Primêr in Schoemanshoek aangestel waar hy vir 18 jaar was.
Aan die begin van 2015 aanvaar hy die pos as skoolhoof by Kranshoek Primêr in Plettenbergbaai, maar net vir ses maande.
“Dit was ʼn interessante tyd,” verduidelik hy. Ek het op daardie stadium ook hier in Oudtshoorn by Sacred Heart en by Saturnus aansoek gedoen. Daardie prosesse was nie afgehandel nie en toe moes ek die besluit maak of ek Kranshoek se aanstelling sal aanvaar.
Hy vertel dat hy skaars by Kranshoek begin het, toe word hy genooi vir onderhoude by Saturnus en Sacred Heart. Na die onderhoude word hy by Sacred Heart aangestel. Na tien jaar in die stoel, voel hy, dit is nou tyd vir ander dinge soos om te toer en te kamp.
“My vrou is al 41 jaar in die onderwys en sy is by Hoërskool Oudtshoorn. Sy het nog nie aftreeplanne gemaak nie, want sy het matrieks. Intussen gaan ek beslis nie op die stoep sit nie, daarvoor is ek nog te jonk,” sê hy.
McCullam het na die voltooiing van sy BA- en honneurstudies ’n meestersgraad in gespesia-liseerde onderwys verwerf.
Hy sê die onderwys het geweldig verander sedert hy destyds begin het en hy glo dat onderwysers onder toenemende druk moet funksioneer terwyl sosio-ekonomiese toestande en dissipline verander. (HANNES VISSER)
Sacred Heart se skoolhoof lê tuig neer
Godfrey McCallum, uittreënde skoolhoof van Sacred Heart Primêre skool.
Foto: Hannes Visser