Saak teen man wat glo skiet en met bakkie stamp,van hofrol verwyder

Saak kan terug op hofrol, sê landdros

Deur Garnett Wicomb
ONDERSOEKWERK wat nog nie voltooi is nie en uitstaande ballistiese verslae het daartoe gelei dat die saak teen ’n grondeienaar van Volmoed, Gert Benecke (65), verlede week in die Oudts­hoorn Landdroshof van die hofrol verwyder is.

Benecke is daarvan aangekla dat hy op Saterdag 10 Maart 2018, vir Pieter de Bruin met sy bakkie omgery en daarna op sy vrou, Hester de Bruin, en ander mense geskiet het.

Hulle het glo sonder toestemming oor sy grond gestap.

Hy is van poging tot moord aangekla en vroeër borgtog van R5 000 toegestaan.

Die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, het die hof meegedeel dat die ondersoek nog nie voltooi is nie en daar onder meer gewag word op ballistiese verslae.

Benecke se regsverteenwoordiger, Gideon Ba­den­horst, het die hof toe versoek dat die saak van die hofrol verwyder word.

Landdros Theo-lin November wat ook die borg­tog aan Benecke toegestaan het, het hom meege­deel dat dit voorlopig ’n tydelike verwydering is en die saak weer op die hofrol teruggeplaas kan word.

Tydens Benecke se vorige verskyning het lede van die plaaslike EFF-tak ’n plakkaatbetoging voor die hofgebou gehou en ’n memorandum aan hooflanddros Jaco Lamprechts oorhandig waarin beswaar gemaak is teen die hantering van die saak.

Volgens die EFF kry Benecke voorkeurbehandeling.

Lisa Cremer, distrikshof-beheeraanklaer, het egter gesê daar word streng by regulasies gehou en dat die regte prosedures gevolg is.