Roadmac spring in by Ruddlaan

NA herhaalde klagtes van inwoners word Ruddlaan in Oudtshoorn uiteindelik opgeknap. Dié smal straatjie wat langs Tuishuis,’n ouetehuis, verbyloop, was in ’n haglike toestand nadat herstelwerk aan ’n pyp gedoen en die pad nooit herstel is nie.

“Die straat was destyds deel van een groot erf, maar is in later jare opgesny in kleiner erwe,” sê Johan Fourie, wyk 3 se raadslid. Daar was volgens hom aanvanklik onsekerheid oor wie vir die onderhoud van die pad verantwoordelik is, maar dat dit wel die munisipaliteit se taak is.

Fourie het verlede week vir Roadmac, die konstruksiefirma wat tans aan die N12 tussen Oudts­hoorn en De Rust werk, gekontak en hulle gevra vir hulp om die pad vir teerwerk voor te berei omdat hulle oor die regte toerusting beskik.

“Binne ’n paar uur was hulle hier en besig om die ou teer te lig en die pad te rol,” sê Fourie.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het gister (Woensdag) met die teer van die pad begin. (Deur Angelique Erasmus)