DIE Oudtshoorn Hospitaal het sedert 1 Februarie ’n nuwe kliniese bestuurder, dr Erhardt Heydenrych.
Heydenrych is nie ’n nuwe gesig by die Oudtshoorn Hospitaal en plaaslike klinieke nie en werk al sedert 2004 as mediese beampte vir die Oudtshoorn-subdistrik. Heydenrych rapporteer aan dr Charles Dreyer, mediese bestuurder van die subdistrik.
As kliniese bestuurder is Heydenrych verantwoordelik vir sekere aspekte van kliniese personeel- en diensleweringsbestuur by die hospitaal en klinieke in die Oudtshoorn-subdistrik.
“My doelwit is onder meer dat ons die gesondheidsdepartement en ons dienslewering ooreenkomstig die konsep van ’n ‘ideale kliniek’ en ‘ideale hospitaal’ moet bedryf.
“Ons personeel is ook ’n waardevolle bate.
“Ons onderskryf en streef daarna om die waardes van die gesondheidsdepartment, naamlik innovasie, omgee, bekwaamheid, aanspreeklikheid, integriteit, reaksie en respek in dienslewering en bestuur, te integreer en teenoor gesondheidsgebruikers uit te leef.”
Heydenrych sê hy is ten spyte van van die uitdagings in die gebied soos werkloosheid, wat ’n direkte uitwerking op gesondheid het, en finansiële beperkinge positief oor dienslewering en die departement se vermoë om kwaliteit gesondheidsdiens aan almal te lewer.
Hy is en sy vrou, Isabel, woon op Oudtshoorn en het twee seuns wat reeds uit die huis is.
Hy vertel dat hy in sy vrye tyd lief is vir “skeppende aktiwiteite”.