Dié “naamborde” wat kommentaar lewer op die stank in die rivierwater by die hangbrug op Oudtshoorn is Maandag-oggend daar geplaas, maar is later die oggend verwyder. (Foto’s verskaf.)

Deur Liesel le Roux
“VROTWATER FONTEIN.” En “STINK FONTEIN.”
So lui twee “naamborde” wat Maandagoggend deur anonieme inwoners van Oudtshoorn by die historiese hangbrug op Oudtshoorn neergesit is.
Foto’s van die “naamborde” by die hangbrug is ook die oggend aan Die Hoorn gestuur.
Inwoners kla al etlike jare oor ’n erge rioolstank wat dikwels by die hangbrug opvallend is. Die brug, wat onlangs deur die munisipaliteit gerestoureer is, is ’n nasionale erfenisgebied met talle gastehuise in die omgewing.
Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (voorheen Eden Distriksmunisipaliteit) het in Mei vanjaar aan Die Hoorn bevestig die reuk word veroorsaak deur rioolwater wat as gevolg van onder meer rioolverstoppings in die omgewing van die
Infanterieskool via ’n stormwaterpyp in die Grobbelaarsrivier loop.
Ondanks jarelange klagtes van inwoners oor dié stank en die gesondheidsprobleem wat dit skep, is die verantwoordelike owerhede klaarblyklik nie daartoe in staat om dit op te los nie.
Herman Pieters, senior kommunikasiebeampte van die distriksmunisipaliteit, het in Mei aan Die Hoorn gesê dat die SANW-gebied deur ’n stormwaterstelsel gedreineer word, maar dat verstoppings veroorsaak deur riool, waswater en afvoerstelsels daar tot gevolg het dat rioolstelsels oorloop en vuil water in die stormwaterstelsel en so in die Grobbelaarsrivier in Kerkstraat beland. Volgens Pieters is die Infanterieskool en die assistent-direkteur van omgewingsgesondheid (Area Militêre Gesondheidseenheid, Wes-Kaap) bewus van die probleem.
Intussen wag inwoners van die omgewing en besoekers aan die hangbrug op ’n oplossing vir hierdie klad op die naam van Oudtshoorn.
So skryf Annelize Kruger Schutte op Facebook oor die boodskap van die naamborde van Maandag: “Stem 100% saam! Ons wat daar naby woon, beleef dit elke dag. Dit skep so ’n swak indruk… veral in KKNK-tye, wanneer toeriste daar stap.”
Die Distriksmunisipaliteit en die Oudtshoorn Munisipaliteit het teen druktyd gister nog nie een op navrae van Die Hoorn oor die borde en die stank by die brug gereageer nie.