Regslui moedig leerders aan om sukses na te streef

Voor van links, voor, staan Karen Alexander, prinsipaal van Aurial Kollege, Cindy Murray-Smith (prokureur), landdros Ntombizandile Maseti en hooflanddros Ryan van Harte. Agter staan Zelda Jass (staatsaanklaer), adv Shaun Ferreira, Keith Dyssel (staatsaanklaer) en Thurston Louw (prokureur). Foto’s: Garnett Wicomb

Jaco Stevens van die Hoërskool Môrester, saam met landdros Stephanie Strydom, landdros Grahymme Williams, Leonie van Rooyen (staatsaanklaer) en Brian Carelse (reghulpprokureur).

’N GROEP landdroste, staatsaanklaers en prokureurs van Oudtshoorn het die Aurial Kollege en die Hoërskool Môrester onlangs besoek om leerders aan te moedig om hard te werk, die regte keuses te maak en sodoende ’n sukses van hul skoolloopbane te maak.

Volgens landdros Grahymme Willliams, inisieerder van die uitreiking, was die hoofdoel om leerders te laat besef dat jy nie agter jou omstandighede moet skuil om nie ’n sukses in die lewe te maak nie.

Hy het aan senior leerders van die Hoërskool Môrester gesê sy moeder was ’n fabriekswerker en sy pa het op die Spoorweë gewerk, maar dit het hom nie daarvan weerhou om hard te werk, en om pligsgetrou en suksesvol te wees nie.

Volgens hom is dit maklik om die regte besluite te neem. “Indien ’n supermarkkassier jou te veel kleingeld gee, is dit jou plig om die geld terug te gee omdat dit van die kassier se salaris afgetrek gaan word. “Dit is daardie soort besluite wat jou sal laat uitstyg in die lewe.”

Hy het ook ’n beroep op leerders gedoen om hul onderwysers te respekteer. “Onderwysers is nie spesiale mense wat uit spesiale omstandighede kom nie, maar gewone mense wat baie opoffer vir hul leerders.

“En julle moenie dink dat julle nie hoogtes kan bereik nie. Alles is moontlik met harde werk en pligsgetrouheid.”

Landdros Stephanie Strydom het ’n beroep op die leerders gedoen om die verantwoordelikheid vir hul keuses te neem en bygevoeg dat goeie maniere ’n mens op plekke bring waar geleenthede jou nie sal kry nie.

Leonie van Rooyen, staatsaanklaer, en Brian Carelse, ’n prokureur in diens van die regshulp-raad, het vertel hoe moeilik dit destyds was om ver van die huis aan ’n universiteit te studeer omdat die geleenthede wat leerders vandag kry, hulle nie destyds beskore was nie.

Volgens Van Rooyen moes sy dikwels droë brood eet terwyl Carelse vertel het van die tye toe hy en sy kamermaats dikwels vir middagete eiers en aartappelskyfies en vir aandete aartappelskyfies en eiers geëet het.

Carelse het sy kommer uitgespreek oor die groot getal jongmense wat deesdae by misdaad betrokke is en in die howe verskyn.

Tydens ’n besoek aan Aurial Kollege het hooflanddros Ryan van Harte, landdros Ntombizandile Maseti, staatsaanklaers Keith Dyssel en Zelda Jass asook Cindy Murray-Smith van die regshulpraad, adv Shaun Ferreira, en Thurston Louw, prokureur, leerders aangemoedig om die regte besluite te neem.

Volgens Van Harte het hy sonder ’n pa en ma grootgeword en skoolskoene geleen. “Ek was ’n ouma- en oupakind soos baie kinders vandag, maar dit het my nie verhinder om hard te werk en suksesvol te wees nie.”

Hy het ’n beroep op die leerders gedoen om hul onderwysers die nodige respek en agting te betoon. “Indien jy rebelleer, word die pad na sukses al moeiliker. Jou huidige omstandighede hoef nie jou toekoms te bepaal nie, maar wel toewyding en nederigheid.”

Van Harte het ook gesê die hof is nie daar om mense te verkleineer nie en dat landdroste met karakter en integriteit moet optree.

Volgens hom is dit ’n interessante werk met die hoofdoel om geregtigheid in die hof te laat geskied. Hy het sy kommer uitgespreek oor die groot getal kindersake wat daagliks op Oudtshoorn op die hofrolle is, en die wens uitgespreek dat hy in die toekoms sal lees van die landdroste, prokureurs, dokters en argitekte wat Aurial Kollege opgelewer het en hoedat hulle terugploeg in hul gemeenskap. (Deur Garnett Wicomb)