
Margaret Jordaan (links agter) by vrywilligers van die Oudtshoorn Diereskut. Langs haar is Hein Crocker (OSS Assosiasie) en Colleen Smith-Coetzee, en voor van links Magda Davel, (diereskut-bestuurder) en Ansa de Jager. Inlas, bo: Freddie Jordaan en Margaret Jordaan tydens hul 50ste huweliksherdenking.
Deur Ilze-Mari Gründling
TWEE Oudtshoorniete het die afgelope weke ’n indrukwekkende 625 kg droë honde- en katkos en 1 300 blikkies dierekos ingesamel as deel van ’n projek vir Oudtshoorn se diere.
Projek Twinkles is deur Margaret en Freddie Jordaan geloods ter viering van hul 50ste huweliksherdenking en Margaret se 69ste verjaarsdag in Maart. Die naam Twinkles kom van ’n hondjie van die Jordaans wat verlede jaar dood is.
Die Jordaans het Maandag die kilogramme dierekos aan drie welsynsorganisasies oorhandig, Oudtshoorn Dogs in Need wat by die diereskut werk, die Animal Care Team (Act) en Lee-Ann van Sittert se Cat Hotel.
Verskeie individue soos die sakeman Deon Bosman en besighede het die Jordaans se projek ondersteun. Bosman het met ’n spitbraai R2 600 ingesamel waarmee dierekos gekoop is. Verskeie skole het ook kos ingesamel en aan die projek geskenk. Donasies van R2 200 is voorts ontvang wat aan veeartskoste bestee sal word.
Die Jordaans het verlede jaar een ton hondekos vir die diereskut ingesamel en vanjaar was hul mikpunt drie ton.
“Volgende jaar maak ons weer so. Ek wil graag meer gee aan die skut. Ek is baie dankbaar teenoor almal wat vanjaar bygedra het. Daar is soveel mense, besighede en instansies wat gehelp het. Sonder hulle en sonder my man, Freddie, se ondersteuning sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie,” het Margaret gesê.
Hein Crocker, voorsitter van die OSS (Oudtshoorniete Staan Saam) Assosiasie, het ook die projek ondersteun. Die OSS Assosiasie bestaan uit geaffilieerde nie-winsgewende organisasies, groeperinge en individue wat ’n bydrae wil lewer tot die maatskaplike en ekonomiese opheffing van die breër Oudtshoorn-gemeenskap.