Polisie ondersoek omstandighede met Josh se dood

'n foto van Josh Pharaoh wat deur sy oupa, Hamilton Pharaoh op Facebook geplaas is.

Josh Pharaoh. Foto: Hamilton Pharaoh op Facebook

DIE polisie ondersoek tans die omstandighede waartydens die negejarige Josh Pharaoh van die Paarl ernstige kopbeserings opgedoen het toe hy in ’n SANW-voertuig by vanjaar se KKNK geval het.

Josh is gister omstreeks 02:15 in die Life Bayview Hospitaal in Mosselbaai oorlede.
Josh is Vrydag beseer terwyl hy die SANW-uitstalling by vanjaar se KKNK besoek het.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die polisie besig met ’n geregtelike doodsondersoek en sal ’n nadoodse ondersoek ook gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.
’n Woordvoerder van die SANW het gister gesê die kommunikasiekantoor van die SANW sal ’n verklaring oor die voorval uitreik.
Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, het sy innige simpatie teenoor Josh se naasbestaandes uitgespreek. “Ons gedagtes en gebede is met die familie in hierdie tyd van smart,” het hy gesê.