Peperboom val kragdraad plat

DRIE weke nadat ’n groot peperboom op ’n vragmotor in Noordstraat ge­val het, het nog ’n peperboom op bykans dieselfde plek kragdrade so in hul peetjie geval dat gedeeltes van Oudtshoorn van Maandagaand af sowat 14 ure sonder krag was.

Die boom het Maandagaand kort na 22:00 op kragdrade in Noordstraat naby die hoek met Jan van Riebeeckweg geval. Dit het ’n kragonderbreking in dele van Oudtshoorn-Noord en Wesbank-Noord tot gevolg gehad.

Volgens Ntobeko Manqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is elektriese geleiers beskadig en was omvangryke herstelwerk nodig.

Elektrisiteit is Dinsdagoggend in in dele van die geaffekteerde gebiede herstel. Die res van die elektrisiteit is Dinsdag omstreeks 16:00 aangesluit.