
Die bestuurder van die Black Swan Restaurant op Oudtshoorn, Corlu Nel, wys die keramiekskedel wat Vrydagaand deur twee buitelanders uit die restaurant gesteel is. Foto: Schalk le Roux
Toeriste word gou vasgetrek oor snel optrede
Deur Liesel le Roux
Die Oudtshoorn Polisie het Vrydagaand blitsvinnig twee buitelandse besoekers aan Oudtshoorn vasgetrek nadat een van hulle omstreeks 18:50 ’n keramiek-ornament by die Black Swan Restaurant gesteel het.
Die twee besoekers, ’n man en vrou, is op kringtelevisie vasgevang waar hulle die restaurant verlaat en die vrou die ornament, ’n wit skedel van ’n bees gemaak deur Ceramic Factory, optel van ’n tafel en saamneem. Die man is na bewering van Swede en die vrou van die Verenigde Koninkryk.
Die twee is later die aand in hegtenis geneem toe hulle teruggekeer het na die restaurant om ’n rugsak te gaan haal wat die man daar vergeet het.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die besoekers albei boetes van R1 500 betaal.
Hulle is na verneem word Saterdagoggend vrygelaat. Die beraamde waarde van die ornament is R1 200.
Die restaurantbestuurder, Corlu Nel, sê hy was buite die restaurant toe die man en vrou met die ornament uitgekom en na hul gehuurde motor gestap het.
Hy het hulle tot by die motor gevolg en probeer konfronteer, maar hulle het weggery.
In dié proses het die motor Nel se linkervoet skrams getref.
Nel het die week groot lof gehad vir die hulp van die polisie op Oudtshoorn.
Hy sê na die diefstal het een van die restauranteienaars, Daniël Terblanche, besonderhede van die voertuig en die besoekers asook ’n video van die voorval op die restaurant se Facebook-blad geplaas en hulp gevra.
Nel sê die polisie het intussen vasgestel dat die twee besoekers George toe gery het nadat hulle by die restaurant was, en daar weer omgedraai het terug Oudtshoorn toe, waarskynlik nadat hulle besef het die rugsak het agtergebly.
Toe die twee terugkom by The Black Swan vir die rugsak, is hulle in hegtenis geneem – die vrou met die ornament in die motor en die man toe hy die restaurant binne is.
Na verneem word het die verhuringsfirma by wie die twee buitelanders hul motor gehuur het, die aand ook die motor teruggeneem nadat hulle van die voorval te hore gekom het.