Deur Garnett Wicomb
’N PA van vier kinders is in die Oudtshoorn Streekhof vir drie jaar onder huisarres geplaas, en ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar gevangenisstraf is aan hom opgelê nadat hy aan statutêre verkrag-ting skuldig bevind is.
Die 28-jarige Jenwin Panza van die plaas Lategansvlei in die Oudtshoorn-distrik het skuld beken op die aanklagte dat hy geslagsgemeenskap gehad het met ’n 14-jarige kind en ’n baba verwek het.
Volgens hom was hulle twee in ’n skelm verhouding betrokke.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat hy dit oorweeg het om van Panza ’n voorbeeld te maak met ’n swaar vonnis om daarmee ’n boodskap uit te stuur dat dié soort optrede deur volwasse mans nie verder geduld gaan word nie.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het gesê Panza is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind.
“Die klaer is ’n kind wat nou ’n kind moet grootmaak.
“Dit is ’n groot probleem in ons gemeenskap en ’n swaar vonnis moet opgelê word om ’n sterk boodskap uit te stuur.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê Panza het inbreuk gemaak op ’n kind se regte.
“Jy kan nie met ’n kind van veertien seks hê nie.”
Hy het egter in ag geneem dat Panza vir vier kinders moet sorg, en die feit dat hy manmoedig was om skuld te beken, in ag geneem, maar gesê nou moet Panza ook manmoedig sy vonnis vat.
Volgens die landdros was dit kommerwekkend dat Panza nog nie begin het om onderhoud vir die kind te betaal nie.
Panza is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig ingevolge Art 276 (1) (h).
Dit behels dat hy 24 uur per dag onder huisarres is, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet ook 16 uur per maand gratis gemeenskapsdiens verrig.
Verder moet hy ook rehabilitasieprogramme bywoon en hom weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms.
Panza is voorts onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.