Man en vrou vas vir dagga en Mandrax in Ladismith

Ao Jan Cede­ras, woord­voerder van die Ladismith Polisie (links) saam met Dawid Bothman, voorsitter van die Ladismith Gemeen- skap Polisieforum (GPF), met verlede Donderdag se daggafonds in Ladismith. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
TWEE mense is verlede Donderdag op Ladismith in twee voorvalle op dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem.

Volgens die Ladismith Polisie se woordvoerder, ao Jan Cederas, is ’n 26-jarige man in die eerste voorval aangekeer nadat daar 20 pakkies en 388 banksakkies dagga in sy besit gekry is.

Die man het Vrydag reeds in die Ladismith Landdroshof verskyn.

Cederas sê die man is vasgetrek nadat die Ladismith Polisie inligting opgevolg het.

Hulle het ’n minibus-taxi by een van die vulstasies op die dorp gestop.

“Die taxi is daarna na die polisiekantoo begelei. Die dwelms was in die verdagte se bagasie versteek.”

Volgens Cederas was die totale gewig van die dagga 2,3 kg.

In ’n tweede voorval op die dorp is ’n 32-jarige vrou van Ravensmead in Kaapstad op dieselfde dag in hegtenis geneem.

Cederas sê in dié geval het die Ladismith Polisie weer inligting opgevolg oor ’n minibus-taxi wat vanaf Kaapstad onderweg was en moontlik dwelms vervoer het.

’n Plastieksakkie met sowat 200 Mandrax-tablette is in die vrou se besit gevind.

Sy het Maandag vlugtig in die Ladismith Landdroshof voorgekom vir die besit van dwelms.

Die voorsitter van Ladismith se Gemeenskap Polisiëringsforum (GPF), Dawid Bothman, het sy dank en waardering teenoor die Polisie uitgespreek vir hul harde werk om smokkelaars aan te keer.

“Die gemeenskap is baie trots op die SAPS wat hul omgewing veilig hou, en ons is dankbaar vir die vertroue wat die gemeenskap in die Polisie het,” het hy gesê.