PA Leesfees: Groot verskeidenheid

Prince Albert Foto: Die hoorn argief Onder: Prince Albert Leesfees Program

Die program van die Prince Albert Leesfees wat vanaf 30 Augustus tot 1 September in The Showroom aangebied word, beloof om iets vir elke smaak te bied. Bekende skrywers, digters en musikante soos PP Fourie, Jeanette Ferreira, Stefaans Coetzee, Chris Vorster, Riku Latti, Petronel Baard, Clinton V du Plessis, Sally Andrew en Sidney Gilroy is maar enkele van die deelnemers.

Vir vermaak buiten die skrywersgesprekke, word die film van Rudi van Rensburg se trefferboek, Hans steek die Rubicon oor, op 30 Augsutus vertoon. Vir Saterdagaandvermaak span die digter en skrywer, Hannes Visser, en die talentvolle musikant, Petronel Baard, kragte saam vir die uurlange vertoning, Asemhaal. Tydens die verto-ning sing Petronel van haar eie musiek, asook ’n paar bekende liedjies en die toonsetting van twee van Hannes se gedigte. Hy lees van die gedigte voor en vertel die gedigte se stories.

Die hele program, buiten twee items, word in die pragtige art deco-styl The Showroom aangebied. Op saterdagoggend 31 Augustus kan besoekers vroeg uit die vere klim en na die Kri-tikomkoppie langs die dorp gaan vir gedigte met sonsopkoms, ‘n gratis aanbieding deur digters van die dorp en elders.

Die fees sluit Sondag 1 September op ’n hoog-tepunt af met die bekendstelling van die bekende skrywer, Sally Andrew, se kookboek, Recipes to die live for by Local Roots in die hoofstraat. Die gesprek met Sally gaan gepaard met ’n ete uit die kookboek. Daar is ’n beperkte aantal sitplekke beskikbaar en voorafbespreking is noodsaaklik.

Die volledige program van die leesfees is op Prince Albert Leesfees se Facebookblad beskikbaar en kaartjies kan deur Quicket bespreek word. Vir navrae kontak Reinie of Hannes by reiniesmit@gmail.com en visserh2@gmail.com.