Oudtshoorn spaar beste

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se waterverbruik per persoon is tans die laagste in die Tuinroete Distriksmunisipaliteit met 121 liter per persoon per dag. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan goeie waterbestuur deur die munisipaliteit asook die same­werking van inwoners om tydens die droogte water te bespaar.

Kannaland, wat onlangs hulp van Gift of the Givers gevra het vir drinkwater, se verbruik is die hoogste, naamlik 314 liter per persoon per dag.

Verbruik in die ander munisipaliteite binne die Distriksmunisipaliteit per persoon per dag is: George (126 liter), Knysna (156 liter), Hessequa (168 liter), Bitou (180 liter) en Mosselbaai (189 liter).
Riglyne vir gesuiwerde rioolwater.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het die afgelope week in ’n persverklaring die volgende belangrike riglyne daarge­stel vir die veilige gebruik van gesui­werde rioolwater in ’n tuin.

Met die versengende droogte in Oudts­hoorn en omgewing, maak baie inwoners gebruik van gesuiwerde rioolwater wat by die twee punte op die dorp beskikbaar is.

Oor die veiligheid van die water wasdaar reeds verskeie vrae, en die munisipaliteit het as volg op die vrae gereageer:

Die uitvloeisel vanaf die Oudtshoorn Rioolwerke moet aan die Departement van Waterwese se “algemene standaard” voldoen. Volgens dié standaard is bakterieë wel toelaatbaar in die uitvloeisel, maar binne sekere perke. Die standaard gee ook riglyne ten opsigte van die pH, ammoniak, opgeloste soute, ens. Uit­vloei­sel wat aan hierdie standaard voldoen, kan vir besproeiing gebruik word.

Die uitvloeisel vanaf die Oudtshoorn Rioolwerke, wat tans gratis aan die pu­bliek beskikbaar gestel word vir besproeiing, word maandeliks getoets en voldoen aan die standaard.

Vir eie gemoedsrus is dit egter steeds raadsaam om die volgende in gedagte te hou indien die gesuiwerde rioolwater in ’n tuin gebruik word:

• Geen wortelgewasse soos aartappels, geelwortels, patats, uie ens moet met die gesuiwerde rioolwater natgemaak word nie. Moet dit liefs vir geen vrugte of groente gebruik nie. Alle vrugte en groente moet in elke geval deeglik gewas word voor gebruik.

• Indien grasperke natgemaak word, is dit raadsaam om nie onmiddellik daarna op die gras te loop of speel nie. Laat die grasperk eers vir ’n dag of twee droogword in die son, voor dit weer gebruik word. Die UV-strale help baie met ont­smetting.

• Was jou hande nadat jy in aanraking was met die gesuiwerde rioolwater en dra skoene (en selfs handskoene) indien jy enige seerplekke of wonde het.

• Inwoners word versoek om nie meer as 2 000 liter per geleentheid by die St Saviourstraat-aftappunt te tap nie. Vir volu­mes meer as 2 000 liter per geleent­heid moet die aftappunt by die rioolwerke gebruik word.

“Die samewerking van die Oudts­hoorn-gemeenskap om water te spaar is verblydend en die moeite wat gedoen word om gesuiwerde rioolwater te gebruik, word hoog op prys gestel,” lui die verklaring ten slotte.

Waterverbruik in Kannaland
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê hoewel die droogte in die Karoo en Klein Karoo baie ernstig is, is daar verskeie projekte in die provinsie om te verseker gemeenskappe het toegang tot drinkwater.

Die Wes-Kaapse regering moes verlede week ingryp by Kannaland se watersui­weringsaanleg omdat die aanleg nie voldoende onderhou is nie en die water­- gehalte swak was. Amptenare van munisipaliteite soos Oudtshoorn het met die rehabilitasie van die aanleg gehelp.

“Dit is belangrik dat die water van die klein dorpies in die Karoo versigtig en op ’n daaglikse basis bestuur moet word om te voorkom dat reservoirs droog loop,” sê Bredell.

Volgens hom het Zoar se inwoners die naweek kortstondig ’n watertekort ondervind nadat die aanvraag die aanbod van reservoirs oorskrei het en dit ’n ruk neem voordat die grondwater weer die reservoirs vul.

Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit het reeds sewe watertenkwaens in Zoar ge­plaas waar inwoners kan gaan water kry terwyl die reservoirs weer vul.

Volgens Bredell het ’n afvaardiging wat die gebied besoek het, gevind die waterverbruik in Zoar is onaanvaarbaar hoog. Die Zoar-gebied gebruik tans 170 liter water per persoon per dag. Die gemeenskap is versoek om dit te verminder na 50 liter per persoon per dag.

Die noodnommer vir waterhulp in die provinsie is 112.