Oudtshoorn se biblioteke open hul deure weer op 21 September

AL die biblioteke in die Groter Oudts­hoorn open weer op 21 September hul deure vanaf 10:00 tot 16:00 op weeksdae. Die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek sal in ’n later stadium ook op Saterdae oopmaak.

Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit is daar streng regulasies waaraan biblioteke tydens Vlak 2 moet voldoen. Biblioteekpersoneel werk reeds se­dert 24 Augustus om te verseker dat aan al dié regulasies voldoen word. Slegs deursigtige skerms op die toonbanke moet nog geïnstalleer word.

“Om gereed te wees vir die publiek is nie so maklik soos wat dit mag lyk nie,” sê Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit. “Die aard van dienste in ’n biblioteek behels dat biblioteekgebruikers en -personeel oor en weer aan biblioteekmateriaal raak. Indien die voorskrifte nie nougeset nagevolg word nie, bestaan die risiko dat dit tot die verspreiding van Covid-19 kan lei.”

So lyk die voorgeskrewe reëls

Uitneem van boeke en ander:
• Boeke wat teruggebring word, word nie ingehandig nie, maar in bokse geplaas wat dan “in isolasie” geplaas sal word.
• Gebruikers mag vyf boeke vir ’n periode van twee weke uitneem en kinders vier boeke.
• Gebruikers sal slegs 15 minute gegun word om boeke af te gee en te ontvang.
• Kinders onder 12 mag nie boeke uitneem nie. Ouers en voogde moet namens hulle boeke uitneem.
• Geen CD’s of videos mag uitgeneem word nie.
• Geen koerante of tydskrifte mag uitgeneem of in die biblioteek gelees word nie.

Rekenaargebruik:
• Gebruikers moet sessies op die rekenaars (30 minute per dag) vooruit bespreek.
• Sleutelborde van rekenaars sal daagliks met nuwe kleefplastiek bedek word, en ook ontsmet word na elke gebruiker.

Ander
• Alle besoekers sal ’n besoekers­lys moet voltooi met sifting en hand­reiniging wat sal plaasvind.
• Fotostate mag in die biblioteke gemaak word.
• Studieprojekte mag egter nie in die biblioteke gedoen word nie.
• Die hoeveelheid mense wat in elke biblioteek toegelaat word, sal bepaal word deur die grootte van die biblioteek.