Bo: Twee kinders van Little Bo-Peep, Edgar Nortje en Caro Victor, soos hulle as die karakters Wolf en Sterretjie verskyn in een van die twee nuwe storieboeke van Little Bo-Peep op Oudtshoorn. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
LITTLE BO-PEEP, ’n kleuterskool in Oudtshoorn, spog vanjaar met ’n oulike fondsinsamelingsprojek. Die skool het gisteraand twee eie storieboeke, Oudtshoorn, jou lekker ding! – Volume 1 en 2, by die Klein Karoo Ostrich Emporuim bekend gestel.
Die stories in die twee boeke is nuwe weergawes van geliefde kinderstories, en foto’s van elke kind in die kleuterskool verskyn in die boek, aangetrek soos ’n karakter in van die stories.
Die name van plaaslike besighede verskyn ook in elke storie, in ruil vir ’n borgskap aan die skool as deel van die fondsinsameling.
“Die besighede se terugvoer was amazing! Daar is sowat 60 besighede in die boekie,” sê Madelein Miles, een van die ouers wat betrokke was by die projek.
Die twee boeke is elk sowat 80 bladsye dik en bevat saam 21 stories.
Volumes 1 en 2 van Oudtshoorn, jou lekker ding! kan by die skool se seketaresse Jean Erasmus teen R150 per boekie bestel word.