Donovan Cupido (regs) en sy vrou Gaynor met sy toekenning. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
’N BOORLING van Oudtshoorn wat tans skoolhou by die Hoërskool William Pescod in Kimberley, Donovan Cupido (36), het ’n Noord-Kaapse Onderwystoekenning vir uitnemendheid in sekondêre skoolonderrig ontvang. Die toekenningsgeleentheid het op 13 November plaasgevind.
Volgens die Noord-Kaapse minister vir onderwys, Martha Bartlett, wil dié eerbewyse toegewyde, kreatiewe en effektiewe onderwysers wat meer doen as wat van hul verwag word, vereer en uitnemendheid in die onderwys bevorder.
Cupido onderrig ekonomie vir graad 10 tot 12, is die onderrig- en transformasieleier van die skool en is in beheer van ses verskeie sportkodes.
Hy het in 1998 aan die Hoërskool Môrester in Bridgton gematrikuleer en kon nie onderwys op die dorp studeer nie omdat die plaaslike onderwyskollege gesluit het. Hy het lid geword van die groep plaaslike sangers/akteurs wat in die kabaretvertoning, Struisvogelstories, opgetree het.
“Struisvogelstories het vir my deure oopgemaak by die destydse gemeenskapsradiostasie, Suid-Kaap Stereo, as vryskutradio-omroeper. Toe die radiostasie sluit, het ek werk by die Bridgton Biblioteek gesoek. Ek het ook leerders met huiswerk en take gehelp,” sê Cupido.
Intussen, vertel hy, het sy ma Jacoba, haar werkskollega Wounie, en sy oudste suster, Sharon, hard gewerk om hom by die Geamalgemeerde Perseverence en Phatsimang Onderwyskollege in Kimberley te registreer.
“Met die hulp van ’n beurs van die Oudtshoorn Munisipaliteit, my suster Yolanda en haar kollegas se donasies, asook donasies uit die gemeenskap het ek uiteindelik ’n kans gekry om my droom te bewaarheid.”
Cupido sê God en talle gebede het hom staande gehou, en dat hy nooit sal vergeet waar hy vandaan kom nie.
“ ’n Mens is ’n mens deur ander mense,” sê hy.
“Ek is baie dankbaar.”