Erik van Rooyen lig die trofee wat hy Saterdag in Swede gewen het. Foto Facebook
Deur Higgo Jacobs
DIE gholfspeler Erik van Rooyen (29), oud-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn, het Saterdag Suid-Afrikaners trots gemaak toe hy in Gothenburg, Swede, die Skandinawiese Uitnodigingstoernooi met ’n telling van 261 houe (19 onder baansyfer) gewen het.
Dit was Van Rooyen se eerste trofee in die Europese reeks.
Van Rooyen het ’n laaste ronde van 64 gespeel en sewe voëltjies aangeteken. Sy wentjek is gelykstande aan nagenoeg R4,2 miljoen.
Van Rooyen het sterk teenstand in die toernooi ondervind van die Brit, Matthew Fitzpatrick, wat tot Sondag op die 18de putjie in sy nek geblaas het. Hy het egter koelkop gebly en ’n voëltjiesethou van drie meter ingerol om vir Fitzpatrick met ’n enkele hou te klop.
Nog ’n Suid-Afrikaner, Dean Burmester, was in die derde plek met ’n telling van 14 onder baansyfer.
Saterdag se oorwinning maak baie deure in die gholfwêreld vir Van Rooyen oop.
Hy is na die oorwinning 9de op die Europese reeks se Dubai-puntelys en het na die 61ste plek op die wêreldranglys opgeskuif.
Van Rooyen het in 2008 aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer en aan die Universiteit van Minnesota in die VSA gegradueer.
“Woorde kan nie dié oomblik beskryf nie,” het hy na die toernooi op sosiale media geskryf en sy vrou, familie, vriende, span en borge bedank vir hul ondersteuning.