Naomi de Villiers met haar 100ste verjaarsdag Vrydag.
Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
NAOMI de Villiers, beter bekend onder die inwoners en personeel van die ACVV Tuishuis op Oudtshoorn as “Juffroutjie”, het Vrydag haar 100ste verjaarsdag met ballonne, blomme en ’n sjokoladekoek gevier.
Inwoners van Tuishuis is terselfdertyd met tee en eetgoed bederf.
De Villiers vertel dat haar pa, Charl de Villiers, oorlede is toe sy nog klein was. Na sy dood het sy, haar broer en twee sussies saam met hul ma, Anna, by hul ouma in Aberdeen gaan woon.
Haar ma was swanger met ’n derde suster toe haar pa oorlede is.
“My oupa was ’n boer. Ons het brood geknie en ek onthou nog die vrugte- en groenteboorde,” vertel sy.
Sy vertel sy deel haar lewe in drie hoofstukke – drie jaar wat sy onderwys in Graaff-Reinet studeer het, 40 jaar as onderwyser en 40 jaar sedert sy afgetree het. Sy is nooit getroud nie en al haar gesinslede is oorlede.
De Villiers woon nou ses jaar op Oudtshoorn as inwoner van Tuishuis, waar sy oor die jare gereeld gehelp het met geldinsamelingprojekte vir verskeie instansies.
Sy vertel dat sy nog altyd baie gesond was. “Ek is steeds baie gesond. Nog net my mangels is uitgehaal,” sê sy trots.