Optog oor dienslewering en ‘bedrog’

Inwoners Vrydag voor die Oudtshoorn Munisipaliteit se gebou in Voortrekkerweg. Foto: Stefan Skapie Goosen

’N GROEP ontstoke inwoners van die Groter Oudtshoorn – gemeenskapslede van Black Joint, GG Kamp en Kanaal in Oudtshoorn, asook De Rust en Dysselsdorp – het Vrydag (18 Junie) voor die Oudtshoorn Munisipaliteit betoog oor wat hulle “bedrog en ’n gebrek aan dienslewering in die munisipaliteit” noem.

Verteenwoordigers van die groep sê hulle wou ’n memorandum en petisie aan onder meer die munisipale bestuurder, burgemeester en speaker oor­handig, maar dat niemand van die munisipaliteit hulle kon of wou sien nie.

Volgens hoofman Andrew Damons, lid van die Wyk 8-nedersettingskomitee en woordvoerder van die groep, is hulle bekommerd oor hoe hul klagtes oor behuising, dienslewering, die hantering en toe­kenning van tenders, werkskepping in Wyk 8 en Dysselsdorp, asook ander munisipale programme hanteer word.

“Hoekom word ons nie gereken in besluite wat oor ons dorp en gemeenskappe gaan nie? Ons is bekommerd en voel asof ons soos vreemdelinge in ons eie dorp hanteer word. Hoeveel jare kla ons en praat ons nie nou al met die munisipaliteit oor swak kommunikasie en menseverhoudings met ons gemeenskappe nie; en dan praat ons nie eers van die regte probleme nie,” sê Damons.

Volgens hom en die groep inwoners is daar onder meer fondse wat beskikbaar gestel was vir behuising en elektrisiteitverskaffing in hierdie gemeenskappe wat “verdwyn” het, en vra hulle ook dat dringende aandag aan werkskepping en die toedien van tenders aan maatskappye buite Oudtshoorn geskenk word. Hul memorandum, wat deur honderde inwoners onderteken is, het altesame 13 onderskeie punte wat hulle onder die Munisipaliteit se aandag wil bring.

Die groep het die Munisipaliteit sewe dae gegee om terugvoer aan hulle te lewer. Hierdie tydperk verstrek môre, Vrydag 25 Junie.

’n Navraag oor die betoging is aan die munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie. (