
Die aanval het nie ver van die pad tussen Oudtshoorn en De Rust nie plaasgevind.
Deur Ilze-Mari Gründling
’N 19-JARIGE verdagte is Dinsdag omstreeks 15:30 in hegtenis geneem en is tans in aanhouding nadat ’n 75-jarige winkeleienaar van Stolsvlakte Maandagoggend oorrompel, aangerand en beroof is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval omstreeks 10:00 Maandagoggend op die plaas Van Wyksvlei plaasgevind.
Frans Tredoux (75) sê dat hy en sy vrou by die huis was toe sy vrou hom laat weet het dat iemand by die winkel naby die huis is.
“Toe ek by die winkel kom, het een man so vyf tree voor die winkel op die grond gesit en ’n ander een teen die winkel se hoek. Ek het hulle herken en nie enigiets verdag gesien nie.”
Tredoux vertel hy het die winkel oopgesluit, maar toe hy die kasregister oopmaak, het die mans op hom toegesak. Daar was sowat R200 se kleingeld in die kasregister.
Hy is met ’n mes en ’n knopkierie aangeval.
“Ek het my rug op hulle gedraai sodat hulle nie my gesig kon bykom nie, maar ek het nogtans snymerke in my gesig. Hulle het my soveel keer op my rug geslaan met die knopkierie – ek is nie seker hoe ek dit gemaak het nie. Ek is 75 en weet nie hoe ek daardie houe kon hanteer nie.”
Volgens Tredoux het die mans moeg geword en gestop om asem te skep. Hy het omgedraai en geval. “Maar ek skree toe hulle moet my los; hulle is in die moeilikheid. Hulle gryp toe die geld en laat spaander. ’n Minibus-taxi het buite vir hulle gewag en dié is in dorp se kant toe.”
Tredoux is per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem waar hy vir snymerke en kneusplekke behandel is.