Preston Titus-moordsaak
• Gemeenskap is kwaad, hoor hof • Landdros vra tyd om regverdig te kan besluit oor borgtog

Maggie Titus.
Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE staat beskik oor oorgenoeg bewyse dat Magdaleen (Maggie) Titus die baasbrein agter die moord op haar man was.
Dit was gister die woorde van die staats-aanklaer, adv Michelle Weyers, op die laaste dag van Titus se borgaansoek.
Die 41-jarige Titus, vrou van die vermoorde soldaat, Preston Titus (48), sal vir eers tot Donderdag, 8 Maart, in die tronk moet slaap nadat haar borgtogaansoek gister (Woensdag, 28 Februarie) in die Oudtshoorn Landdroshof vir uitspraak deur landdros Errol Thomas tot dan uitgestel is.
Thomas het ná die argumente van Weyers asook Titus se regsverteenwoordiger, Joshua Greeff, gesê hulle het baie tyd gehad om daarvoor voor te berei en dat hy ook genoeg tyd nodig het om ’n regverdige beslissing te maak.
Weyers het in haar betoog die hof versoek dat borgtog in belang van geregtigheid nie aan Titus toegestaan moet word nie. Volgens Weyers staan sy tereg op ernstige aanklagtes van moord met voorbedagte rade en die besit van gevaarlike wapens.
“Die staat het beslis ’n prima facie-saak teen die applikant wat tereg staan op ’n klagte waarvan die minimum-vonnis lewenslange gevangenisstraf is,” het Weyers gesê.
“Dit is eienaardig dat jy ’n prokureur aanstel om iemand wat van jou man se dood aangekla word, te verdedig. Dit maak nie sin nie.”
Weyers het gesê die staat beskik oor oorgenoeg bewyse dat die beskuldigde die baasbrein agter die moord op haar man was.
Sy het byvoorbeeld geld gedeponeer vir die twee huurmoordenaars om vanaf Port Elizabeth na Oudtshoorn te kom, hulle elk-een R30000 belowe, items by die braaiplek gelos wat hulle moes neem asof dit gesteel was en hulle in haar huis toegelaat.
Selfoonrekords staaf dit.
Daar was ook geen gedwonge toegang tot die huis nie, terwyl haar jongste dogter in een van die slaapkamers gelê en slaap het.
Volgens Weyers moet die hof gemeenskapsbelang ook ernstig in ag neem.
“Die gemeenskap is kwaad oor die wreedaardige misdaad. Die oorledene is 27 messteke toegedien en met ’n hamer geslaan.”
Op die vraag of sy ’n vlugrisiko is, het Weyers aangevoer dat sy reeds vroeg die weermag versoek het om haar meubels te vervoer en volgens getuienis van die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, op Montagu motors sou ruil en van daar na Lesotho sou vlug.
Volgens Greeff is die Titus op borgtog geregtig omdat geen getuienis voor die hof gebring is dat sy ’n vlugrisiko is nie, met staatsgetuies sal inmeng, nie haar verhoor sal bywoon nie of enige lid van die publiek enige skade sal aandoen nie.
Sy het ook reg van die begin van die ondersoek haar volle samewerking aan die Polisie gegee het.
Volgens Greeff steun die staat grotendeels op die verklaring en pleitooreenkoms van Sizabiso Klip wat skuld beken en ’n baie ligte vonnis van vyftien jaar gekry het.
“Die applikant is ’n geskikte kandidaat om op borgtog vrygelaat te word,” het Greeff gesê.
Haar familie het aangedui dat hulle R5000 beskikbaar het vir borgtog.
Die saak teen Titus asook van haar twee medebeskuldigdes, Natasha Stuurman en Justice Mooi, is tot 8 Maart uitgestel.
Mooi is reeds borgtog geweier terwyl Stuurman besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.